|

Tshwane Metroraad mors miljoene van belastingbetalers met straatname-aansoek

Ondanks die soveelste oorwinning wat AfriForum oor die Tshwane Metroraad behaal het rondom die omstrede straatname-hofsaak in Pretoria, wil die raad hom nou tot die grondwetlike hof wend.Die metroraad se aansoek om spesiale verlof tot appèl is in die naweek deur appèlregters Mandisa Maya en Nambita Dambuza met koste van die hand gewys. Die metroraad se spesiale aansoek het nie aan die nodige vereistes voldoen nie.

Blessing Manale, woordvoerder van Kgosientso Ramokgopa, burgemeester, het luidens mediaberigte gesê hulle is nie tevrede met die jongste uitspraak nie en sal die saak tot in die grondwetlike hof beveg.

Die hofstryd oor 25 straatname in Pretoria duur sedert 2012. Ramokgopa het destyds aangevoer dat die 25 strate se name in die middestad en omliggende gebiede verander moet word om hulde aan struggle-helde te bring.

Die metroraad het nagelaat om sy hersiene beleid rakende straatnaamveranderings na te kom en het ook nie met wykskomitees gekonsulteer nie.

In April 2013 het regter Bill Prinsloo ’n dringende interdik aan AfriForum toegestaan wat die metroraad verbied het om hangende ’n hersieningsaksie, wat AfriForum vroeër begin het, met die verwydering van die ou straatname voort te gaan.

Die metroraad het die hofverrigtinge geïgnoreer net voortgegaan om die straatborde met historiese name te verwyder.

Die metroraad se appèl teen die interdik is in Junie vanjaar deur ’n volbank van drie regters verwerp. Die metroraad is in dié uitspraak krities bejeën oor sy minagtende houding teenoor hangende regsprosesse.

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het gesê die mislukte  aansoek om spesiale verlof tot appèl na die appèlhof is die vierde hofoorwinning vir die burgerregte-organisasie in sy stryd om die kulturele en historiese erfenis van minderhede in Pretoria te beskerm.

Oor die metroraad se planne om die saak na die grondwetlike hof te neem, het Spies gesê enige party wat ongelukkig is oor ’n uitspraak het die reg op appèl.

Hy meen egter die hele proses kon lankal afgehandel gewees het as die metroraad sy samewerking gegee het om in die hersieningshof te kom. “Die raad fokus op die verkeerde saak. Daar sou geen nadeel gewees het, as hulle nie inderhaas en oorhaastig opgetree het nie.”

Spies het gesê die metroraad het herhaaldelik teen ’n bevel geappèlleer wat in elk geval net tydelik is.

Hy het gesê dié optrede kos belastingbetalers reeds miljoene rande en kom op grootskaalse vermorsing neer. “Nie net is belastingbetalers se geld op die hofsaak gemors nie. Talle inwoners moes groot uitgawes aangaan om ondernemings se adresse te verander met die straatname wat verwyder is.

“Die metroraad het die regsproses geminag en hierdie saak het omvangryke gevolge. Dit gaan lankal nie meer net oor straatname nie, maar ook oor ’n miskenning van die skeiding van magte.”

 

 

 

 

 

Soortgelyke plasings