|

Twaalf redes waarom JY AfriForum moet steun om Panyaza Lesufi se afdanking te eis

Deur Alana Bailey

As jy ’n emmer modder het, en jy roer ’n lepel sjokoladestroop daarin, bly dit modder. As jy egter ’n lepel modder in ’n emmer sjokoladestroop inroer, is dit nie meer sjokoladestroop nie. Só kan die negatiewe invloed van een mens baie groot skade veroorsaak en daarom moet ons sterk standpunt daarteen inneem.

AfriForum het op Woensdag 20 November 2019 ’n veldtog van stapel gestuur om die afdanking van Panyaza Lesufi as Gauteng se LUR van onderwys te eis. Die volgende dag is ’n brief aan Lesufi se hoof – die premier van Gauteng – se kantoor oorhandig om die klagtes teen Lesufi uiteen te sit.

Dit gaan oor veel meer as net die chaos met skoolplasings in Gauteng.

Al woon jy nie in Gauteng nie, al het jy nie kinders of kleinkinders op skool nie, of al word jou kinders nie deur die skoleplasingstelsel van die provinsie benadeel nie, is dit in jou direkte belang om AfriForum se eis te steun.

Hier is twaalf redes waarom:

  1. Lesufi aanvaar nie aanspreeklikheid Nou is sy enigste reaksie op AfriForum se veldtog dat dit rassisties is. Dit gaan nie oor ras nie, dit gaan oor ’n oormag voorbeelde van ’n man wat nie vir sy pos geskik is nie. Hy probeer nie klagtes ontken of verkeerd bewys nie, want hy kan nie. Hy speel net weer die raskaart, wat nou al ’n afgesaagde deuntjie raak.
  2. Lesufi steel die jeug se toekoms. Daar is nie genoeg skole in Gauteng nie. Hy kry selfs begrotings om meer skole te bou, maar sorg nie dat dit gedoen word nie. Dit is suiwer wanprestasie.
  3. Hy weet niks van beste onderwysbeginsels nie, of as hy weet ignoreer hy dit. Hy wil meer kinders in skole en klasse indruk. Hy wil ouers van die keuse oor die skool wat hul kinders bywoon ontneem. Niks hiervan gaan sorg vir gesonde, gehalte onderwys nie. Kleiner klasse beteken beter onderwys en betrokke ouers beteken beter skole.
  4. Die Gautengse skoleplasingstelsel is ’n gemors. Tussen 15 000 en 30 000 kinders van alle rasse is ná sewe maande steeds nie in skole geplaas nie. Geen ander provinsie sukkel so nie. Gauteng het wel ’n toestroming van kinders, maar almal weet dit. As jy bekwaam is, beplan jy daarvoor en hou by plasingstelsels wat werk – jy hou nie aan om ’n nuwe stelsel te gebruik wat duidelik nie werk nie. Ouers het ook al twee keer SMS’e ontvang dat hulle dringend in Johannesburg moet aanmeld en elke keer was dit ’n fout – ’n duur fout vir mense wat verlof moes insit en vervoerkoste moes betaal!
  5. Ouers en kinders in Gauteng beleef frustrasie en trauma oor die onsinnige onderwysregulasies wat Lesufi ingestel het. Boeties en sussie word in verskillende skole geplaas en Graad 1-leerders word in ander skole geplaas as dié waar hulle in Graad R was. Hulle moet dan sonder enige goeie rede van hulle maatjies afskeid neem en weer by ’n nuwe skool inskakel en ouers moet rondjaag tussen kinders se verskillende skole. Dit is belaglik!
  6. Lesufi mors ons belastinggeld. Sien die klagte wat AfriForum teen die onderwysdepartement vir wanbesteding van sowat R900 miljoen ingedien het.
  7. Die veiligheid van skole in Gauteng gaan drasties agteruit. Die 2019-TALIS-verslag het aangedui dat Suid-Afrika van die mees gevaarlike skole in die wêreld het. Ná elke gewelddadige voorval spring Lesufi gou by die betrokke skool voor ’n kamera in, maar wat word prakties gedoen om kinders, personeel en ouers veilig te hou? Daarenteen help AfriForum skole gratis met veiligheidsoudits.
  8. Lesufi dans na die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) se pype. Adv. Gerrie Nel maak binnekort meer in dié verband bekend, maar wat ons nou reeds kan sê, is dat Lesufi se versuim om teen wanpresterende vakbondlede op te tree, groot skade aanrig.
  9. Lesufi wakker haat teen Afrikaans Daar is vele voorbeelde – van sy uitsprake oor die beplande kampus vir ’n Afrikaanse universiteit, tot die taalbeleid van skole. Taal het niks met ras te make nie. Die meeste moedertaalsprekers van Afrikaans is boonop nie wit nie, maar dit pas hom om te maak of ouers se behoefte aan moedertaalonderrig rassisties is.
  10. Lesufi mislei die publiek. Hy sê byvoorbeeld op Radio 702 dat skole se taalbeleid ongeldig is en dan moet die minister van basiese onderwys in die parlement hierdie foute regstel. Intussen is mense verward en onseker.
  11. Lesufi steel ons vreugde met rassistiese Kyk maar na die vlag-voorval tydens die Wêreldbeker rugby: mense word sommer as rassiste gebrandmerk oor hulle kastig die ou vlag rondswaai en dan is dit eintlik die nuwe vlag! Het ons dit nou nodig gehad ná die Springbokke se oorwinning?
  12. Lesufi is ’n los kanon. Die jongste bewerings oor AfriForum wat hom kastig probeer vermoor en in sy bankrekening krap is voorbeelde van die snert wat hy kwytraak en waarvoor hy aanspreeklik gehou gaan word.

Hulle sê ’n land se mense verdien die regeerders wat hulle het. Ons en ons kinders verdien veel, veel beter as Lesufi. Doen die regte ding – steun nou AfriForum se petisie by https://afriforum.co.za/lesufimoetval/ en eis sy afdanking!

Soortgelyke plasings