|

Tweeledige strategie kan Afrikaanse skole groter selfstandigheid gee

Deur Alet Rademeyer

’n Strategie vir groter selfstandigheid van Afrikaanse openbare skole is dringend nodig omdat die skole toenemend deur die staat geteiken word en op verskeie vlakke onder enorme druk is.

Dié skole kry ’n minimale subsidie van die staat en moet al hoe meer planne maak om voort te kan gaan om gehalte-onderrig te verseker. Die skole trek ook swaar weens stygende uitgawes, onvoldoende postevoorsiening, verpligte kwytskelding van skoolgelde vir armer leerlinge en ander voorskrifte deur die onderwysdepartement.

Melanie Buys, onderwyskenner, het haar meestersgraadstudie voltooi en gaan kyk wat openbare skole kan doen om hul selfstandigheid te verhoog. Sy het ook na internasionale modelle gekyk.

Buys meen die behoefte aan befondsing om beperkte staatsubsidie aan te vul, is die dryfveer vir toenemende privatisering en selfstandigheid van Afrikaanse openbare skole.

Sy het by die onderwysberaad van die Solidariteit Beweging daarop gewys dat druk op Afrikaanse skole om Engelse leerlinge in te neem tot gevolg gehad het dat daar in 2014 net 168 skole uit 2 070 in Gauteng was wat nog onderrig in Afrikaans aangebied het.

Buys het gesê skoolgemeenskappe moet minder afhanklik van die staat gemaak word en om dit te bereik moet ’n tweeledige strategie gevolg word.

Aan die een kant moet regulatoriese druk op die regering geplaas word deur organisasies soos Solidariteit, AfriForum, Fedsas en die SAOU.

Dit kan behels dat onderhandel word dat meer magte aan skole gedelegeer word waar ’n bewese bewys van goeie bestuur is. Voorts moet na ’n koeponstelsel gekyk word waar geld die leerling volg. Organisasies moet ook druk op die owerhede plaas om billike vergoeding vir skoolgeldvrystelling formeel te reguleer.

Aan die ander kant moet gekyk word hoe skole hul inkomste kan aanvul. Dit sluit in dat besighede by skole met wedersydse voordelige projekte betrek word, dat ’n volhoubare inkomstestroom geskep word en dat onafhanklike regsentiteite soos trusts gebruik word om outonomie te bewerkstellig. Voorts moet na skenkings en befondsingsvennote gekyk word wat die skool se visie en waardes deel.

Soortgelyke plasings