|

Uiteindelike deurbraak om plaasmoorde te prioritiseer

“Ons kan bevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) plaasmoorde in die toekoms amptelik as ʼn prioriteitsmisdaad sal hanteer,” het lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, vandag op ʼn mediakonferensie saam met AfriForum aangekondig.

Dít volg nadat die burgerregte-organisasie vandag met Phahlane, asook provinsiale polisiekommissarisse vergader het om die wyse te bespreek waarop plaasmoorde geprioritiseer kan word en hoe AfriForum hiermee kan help.

“Dit is wonderlik dat AfriForum die prioritisering van plaasmoorde geïnisieer het. Ons hoop dat ons deur ons samewerking ʼn verskil in landelike gebiede en gemeenskappe kan maak,” het Phahlane gesê.

Phahlane het vroeër vanjaar in die media aangekondig dat plaasmoorde groter prioriteit moet geniet en het vandag bevestig dat die SAPD op ʼn proaktiewe wyse dié unieke misdaad sal hanteer.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat die burgerregte-organisasie besorg was dat die polisiekommissaris slegs met hierdie stelling plaasmoorde erken het, maar nie daadwerklik sou optree om dit te prioritiseer nie. “Indien die SAPD se planne korrek geïmplementeer kan word, is ons positief dat daar ʼn afname in plaasmoorde en -aanvalle kan wees.”

Phahlane het beklemtoon dat gemeenskappe ook aktief ʼn rol moet speel in die stryd teen plaasmoorde. Die SAPD gaan ook met ander landbou-organisasies oor die kwessie in gesprekke tree. “Vandag is bevestiging dat daar toewyding van verskillende rolspelers is om daadwerklik ’n verskil te maak.”

AfriForum het nie net bepaalde voorstelle aan Phahlane gemaak nie, maar ook ’n petisie oorhandig waarop meer as 100 000 beswaarde lede van die publiek eis dat plaasmoorde geprioritiseer word.

“Dit is nóú die beste geleentheid om ’n werklike impak te maak, en dit is belangrik dat soveel moontlik lede van die publiek wat AfriForum se besware oor plaasmoorde deel, dié petisie onderteken,” het Roets gesê.

 

 

Soortgelyke plasings