|

Uitspraak in UP-saak oor taalbeleid ʼn growwe skending van taalregte

Die Pretoriase Hooggeregshof het vandag beslis dat die Universiteit van Pretoria (UP) in 2017 mag voortgaan met die implementering van sy voorgestelde taalbeleid.

Dít kom nadat AfriForum en Solidariteit die grondwetlikheid van dié taalbeleid, vandeesmaand voor ʼn volbank regters uitgedaag het.

Dié beleid, wat op 22 Junie 2016 deur alle belanghebbendes by UP aanvaar is, bepaal dat Engels vanaf 2017 die primêre taal van onderrig aan dié instelling sal wees. Die aansoek is deur regters Jody Kollapen, Peter Mabuse en Selby Baqwa aangehoor.

Volgens AfriForum en Solidariteit is die hof se uitspraak ’n terugslag vir en growwe skending van Suid-Afrikaanse taalregte.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, meen dié saak gaan nie net oor die beregtiging van Afrikaanse studente nie, maar ook oor die beskerming van die beginsels van moedertaalonderrig en meertaligheid in Suid-Afrika.

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit se regspan sal die uitspraak in detail bestudeer in oorweging om die uitspraak op appèl te neem.

Volgens die burgerregte-organisasie sal hy alle stappe moontlik doen ter beskerming en handhawing van Afrikaanse studente se reg om in hul moedertaal te studeer.

Afrikaans het ook vanjaar ʼn tydelike terugslag by die Universiteit van die Vrystaat gekry nadat die hoogste hof van appèl beslis het dat die universiteit mag voortgaan met die implementering van eentalige Engelse onderrig in sekere fakulteite vanaf 2017.

Die hof het beslis dat die implementering mag voortgaan tot die saak oor die meriete van die besluit van die UV-senaat en -raad ten gunste van Engels as primêre onderrigtaal in 2017 aangehoor word.

Soortgelyke plasings