Uitspraak oor UV-taalbeleid berei weg voor vir Konstitusionele hofsaak


Dit is tragies dat onderriginstellings en howe so min beskerming vir die internasionaal erkende reg tot moedertaalonderrig bied.  Omdat toegang tot Afrikaanse onderrig vir AfriForum en Solidariteit ‘n prioriteit bly, duur gesprekke met internasionale forums en kenners voort met die oog daarop om die stryd vir die beskerming van dié reg ook in die internasionale arena aan te pak.  Tegelykertyd word alternatiewe Afrikaanse studiegeleenthede ook in die privaatsektor ontwikkel.
In reaksie op die uitspraak van die hoogste hof van appèl ten gunste van die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat, tree AfriForum en Solidariteit tans in gesprek met dié instellings se regspan.  Die moontlikheid word ondersoek om aansoek by die Konstitusionele Hof te doen om teen die uitspraak te appelleer.
Selfs in die uitspraak is dit duidelik dat daar uiteenlopende standpunte oor die betekenis van Artikel 29 van die Grondwet bestaan.  Dié artikel handel onder meer oor die reg tot onderrig in ‘n student se taal van keuse, onderhewig aan praktiese uitvoerbaarheid.  Dit is van belang dat die appèlregters in die uitspraak erken dat die uitfaseer van ‘n taal soos Afrikaans uit ‘n tersiêre taalbeleid die taal tot nadeel strek en ‘n bron van kommer vir alle taalgroepe in die land behoort te wees.
AfriForum en Solidariteit sal Afrikaanssprekende studente se reg tot Afrikaanse onderrig op alle moontlike wyses binne die wetlike raamwerk beskerm en verdedig.  Soos die appèlhof se uitspraak tereg noem, is taalregte ten nouste verweef met kulturele identiteit en minderheidsregte en is dit nodig dat die Konstitusionele Hof uitspraak oor Afrikaans as medium van onderrig op tersiêre vlak lewer.  Om hierdie rede sal verlof tot appèl na dié hof verwelkom word.
Sodra sekerheid oor die aansoek om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof verkry is, sal ‘n mediaverklaring hieroor uitgereik word.

Soortgelyke plasings