| |

UITSPRAAK VOORBEHOU IN AFRIFORUM JEUG SE SAAK TEEN NSFAS

AfriForum Jeug se saak teen die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) is gister (14 April 2021) in die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad aangehoor. NSFAS het in 2020 sowat 5 000 studente se befondsing summier gekanselleer, en 132 van hierdie studente het AfriForum Jeug genader om hulle by te staan.

NSFAS het beweer dat die studente oneerlik was met hulle aansoeke en het ook SMS-boodskappe aan die studente gestuur waarin beweer is dat inligting van die SAID ontvang is wat aandui dat die studente se huishoudelike inkomste meer as R350 000 per jaar is. In die hof is erken dat NSFAS nie die inligting van die SAID ontvang het nie, maar wel van ’n kredietagentskap wat bloot huishoudelike inkomsteskattings gemaak het. Die saak is deur die agbare regter Sher aangehoor en hy het hierdie bekentenis as uiters kommerwekkend beskryf. Uitspraak is voorbehou.

“NSFAS is die probleem. Universiteite wat nie die studente bystaan nie, of in die steek laat, is net ’n simptoom van die werklike probleem en al die leë beloftes wat deur NSFAS gemaak word. Die verbreking van dié beloftes veroorsaak ook nog verdere moeilikheid op kampusse reg oor die land. Ons hoop die uitspraak in hierdie saak sal in die guns wees van die studente wie se toekoms nou op die spel is,” sê Chantelle du Preez, nasionale koördineerder van kampusstrukture by AfriForum Jeug.

“Baie studente en hulle families wag in spanning om te hoor wat die uitspraak in hierdie saak gaan wees aangesien dit net twee uitkomstes vir die studente kan inhou, naamlik dat hulle toekoms veilig is en hulle verder mag studeer omdat die studieskuld soos aanvanklik onderneem deur NSFAS betaal sal word, of dat hulle ’n ander plan sal moet maak om hulle onvoorsiene studieskuld af te betaal en verder te studeer, wat sal beteken dat hulle toekomsplanne drasties gaan verander,” sluit Du Preez af.

AfriForum Jeug sal aanhou veg vir die regte van studente wat in die steek gelaat word op kampusse oor die land. Verdere navrae van studente in verband met NSFAS kan aan nsfas@afriforum.co.za gestuur word.

Raak vandag nog by jou naaste tersiêre instelling of dorpstak se jeugstruktuur betrokke en help om ’n positiewe verskil te maak: Stuur ’n e-pos na jeug@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings