|

Uitspraak voorbehou in AfriForum se appèlsaak oor Afrikaans by Unisa

Uitspraak is vandag in die hoogste hof van appèl in Bloemfontein voorbehou in AfriForum se appèlsaak teen die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se eentalige Engelse taalbeleid. Dít volg nadat die Noord-Gautengse hooggeregshof op 26 April 2018 uitspraak gelewer het ten gunste van die beleid wat bepaal dat Engels die primêre onderrigtaal aan dié instelling is.

Henk Maree, woordvoerder van AfriForum, verduidelik die appèlsaak is noodsaaklik omdat Unisa se omstandighede uniek is. In die geval van die taalsaak van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het die Konstitusionele Hof verklaar dat Afrikaanse klasse segregasie veroorsaak. In Unisa se geval is daar nie van klasse sprake nie.

In die Universiteit van Pretoria (UP) se saak het die universiteitsbestuur geargumenteer dat Afrikaanse studentegetalle min is, maar in Unisa se geval is meer as 20 000 van die studente na raming Afrikaanssprekend.

Die Konstitusionele Hof het in die geval van die Universiteit Stellenbosch (US) pas bevind dat koste-oorwegings ’n rol speel, maar Unisa het oor dekades die vermoë om modules in Afrikaans aan te bied, vervolmaak. Prof. Fernand de Varennes, die VN se spesiale rapporteur van minderheidsaangeleenthede, het ook pas bevestig die koste verbonde aan studente wat kursusse weens taalprobleme staak, oor die kort en lang termyn veel hoër is as die koste van veeltalige onderrig.

“Met die nuwe beleid gee Unisa ’n reusestap terug na eentaligheid tot nadeel van Afrikaanse studente, maar ook alle ander sprekers van inheemse Suid-Afrikaanse tale,” voeg hy by.

Volgens Maree hoop AfriForum dat hierdie saak gunstig sal afloop sodat toegang tot tersiêre studie uitgebrei sal word eerder as om eerstetaal Engelssprekendes verder te bevoordeel en die meer as 90% ander Suid-Afrikaners soos tweedeklasstudente te behandel deur hulle te dwing om in ’n tweede taal te studeer en hulle van hul taalregte te ontsê.

Ondersteun AfriForum en die beskerming van Afrikaanse taalregte: SMS “Unisa” na 38313 (R10).

Soortgelyke plasings