|

UITSPRAAK VOORBEHOU IN KOSTER-SAAK

Deur Alet Rademeyer

Uitspraak is voorbehou in die Mmabatho Hooggeregshof waar die aksiegroep Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) en die aangestelde dienstemaatskappy Pionier versoek het om voort te gaan met die bestuur van die water- en rioolwerke in Koster en Swartruggens.

Dit kom nadat die LUR (Cogta) en die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit ‘n dringende aansoek gebring het om die bestuur van die water- en rioolwerke in Koster en Swartruggens terug te neem van die KBI. Die LUR het Pionier gevoeg tot die aansoek omrede Pionier tans deur KBI aangestel is om die dienste te lewer.

Die aanhoor van dié aansoek is uitgestel tot vandag sodat al die sake rondom Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit aangehoor kan word. Dit sluit minagtingaansoek teen die munisipalebestuurder in. AfriForum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel het gevra dat Joseph Mogale, munisipale bestuurder van Kgetlengrivier munisipaliteit, weens minagting van ’n hofbevel vir 90 dae tronk toe gestuur word. Uitspraak in dié aansoek is voorbehou. Daar is aangevoer hy het die bevel willens en wetens oortree en nie sy verantwoordelikheid nagekom nie.

AfriForum se tweede aansoek was suksesvol om as vriend (amicus curiae) van die hof toegelaat te word in die aansoek wat die LUR gebring het.

Die regspan vir die LUR het aangevoer die aanstelling van Pionier deur die KBI was onwettig en dat die partye nie die reg het om voort te gaan met die bestuur van die water- en rioolwerke nie.

Adv. Danie Wijnbeek, die KBI se regsverteenwoordiger, het aangevoer die enigste manier hoe die inwoners van Kgetleng steeds toegang tot water kan hê, was deur die aanstelling van Pionier as dienstemaatskappy.

Hy het ook aangevoer dat die KBI geen ander keuse gehad het as om die werke terug te neem nie om te verseker dat watervoorsiening voortgaan. Dit is duidelik dat die staat nie water kan voorsien nie en dat Magalies Water al vir jare in gebreke gebly het om die werk te doen.

Wijnbeek het ook aangevoer dat die munisipaliteit met politiek besig is en nie die belange van inwoners op die hart dra nie.

“Die munisipaliteit het verbete rondgeskarrel om die bestuur van die werke terug te neem. Ons hou voet by stuk dat die werke nie aan die munisipaliteit teruggegee kan word as geen geskikte diensverskaffer aangestel is om die volhoubare funksionering van die water- en rioolwerke te verseker nie,” sê Johan Kruger, direkteur van Pionier Dienstemaatskappy.

Volgens Carel Van Heerden, verteenwoordiger van die KBI, was die onlangse teruggee van die werke aan die munisipaliteit se diensverskaffer katastrofies. Die werke het in bykans ’n week egter só agteruitgegaan dat die terugkeer tot die benarde situasie wat tot die hofaansoek gely het onvermydelik sou wees. Van Heerden bevestig dat die inwoners geen ander keuse gehad het as om die werke terug te neem nie.

“Munisipale bestuurders en amptenare moet tot verantwoording geroep word vir wanbestuur. Besoedeling soos hierdie het verreikende sosiale en ekonomiese gevolge vir die hele streek, asook ’n uiters nadelige effek op die mense wat in die omgewing woon. Ons kan eenvoudig nie meer toelaat dat ons dorpe weens die munisipaliteit se wanbestuur agteruitgaan nie. Ons het daarom besluit om self binne die raamwerk van die wet in te gryp,” sê Corné Cronjé, bestuurder van AfriForum se gemeenskapstrukture.

Soortgelyke plasings