|

Uitspraak voorbehou in saak oor ou landsvlag

Indien die ou Suid-Afrikaanse vlag verban word en die vertoon daarvan haatspraak is, sal dit ’n ernstige presedent skep en tot gevolg hê dat talle ander simbole ook deur die beslissing geraak sal word.

Só het adv. Mark Oppenheimer, namens AfriForum, vandag in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein geargumenteer.

Die saak volg nadat AfriForum teen ’n vroeëre beslissing van die Gelykheidshof geappelleer het waartydens regter Phineas Mojapelo in 2019 beslis het dat die vertoon van die ou landsvlag haatspraak is. Hy het gelas dat die vlag voortaan net in akademiese, geskiedkundige, kuns- of joernalistieke konteks vertoon mag word.

Dié uitspraak het gevolg op ’n aansoek van die Nelson Mandela-stigting (NMS) dat die vertoon van die ou vlag tot haatspraak verklaar moet word nadat dit tydens ’n Swart Maandag-optog vertoon is. Die optog was teen plaasmoorde.

AfriForum het om verskeie redes appèl aangeteken teen die Gelykheidshof se uitspraak dat die vertoon van die 1928-vlag (die ou Suid-Afrikaanse vlag) haatspraak is.

Uitspraak is vandag in die Hoogste Hof van Appèl voorbehou. Regters Mandisa Maya, Ashton Schippers, Clive Plasket, Nolwazi Mabindla-Boqwana en Katharine Savage het dit aangehoor.

Oppenheimer het gesê dit mag wees dat elke mens nie van die ou vlag hou nie, maar deur dit te verban sal ’n presedent geskep word wat tot talle ander sake sal lei.

Hy meen dit sal nie die einde wees nie. Mense wat ander simbole aanstootlik vind en van mening is dat hul waardigheid daardeur gekrenk is en dat dit pyn veroorsaak, sal dit ook verban of as haatspraak wil sien.

Hy het as voorbeelde ander simbole genoem soos die Springbok-embleem, Die Stem, die kommunistiese vlag met die hamer en sekel, die Britse Union Jack wat baie mense ook met onder meer moorde, marteling, miskenning, uitbuiting en/of uitsluiting assosieer.

Hy het beklemtoon dat die verbanning van ’n vlag wat vertoon word, beoordeel en getoets moet word aan die riglyne wat vir haatspraak geld, naamlik dat dit haatspraak aanmoedig en die berokkening van skade aan mense  aanhits.

Hy het as voorbeeld ook genoem die verbranding van die ou landsvlag vroeër tydens ’n anti-apartheidsbyeenkoms wat deur so ’n uitspraak geraak sou word. Dié optrede is vir enigiemand duidelik nie ’n goedkeuring van apartheid nie, maar ’n veroordeling daarvan. Dit is nie om haat aan te wakker nie, maar juis om dit te veroordeel.

Oppenheimer het ook gesê die onderdrukking van die vertoon van ’n simbool soos die vlag sal daartoe lei dat mense ondergronds gaan wat tot ander aksies kan lei. Hy voer aan deur vryheid van spraak te erken en mense toe te laat om simbole (soos die vlag) te vertoon, kan ’n mens die temperatuur en mense se ingesteldheid in ’n samelewing monitor. Die inligting sal verlore gaan as mense onderdruk word om uiting aan spraakvryheid te gee.

Adv. Thembeka Ngcukaitobi , namens die NMS, het geargumenteer die ou vlag is ’n simbool van die vorige regime se mag en dat hy nie van mening is dat AfriForum apartheid veroordeel nie.

Hy meen enige vertoning van die ou vlag kom op haatspraak neer en dat dit eksplisiet dui op wit oorheersing, wit dominansie en uitsluiting van ander groepe.

Volgens hom dui dit op ’n smagting en terugkeer na apartheid en dat almal wat dit vertoon steeds wit oorheersing voorstaan. Die vertoon van die vlag propageer aldus hom ook rassisme.

Ngcukaitobi meen die vertoning van die vlag in privaat instellings soos skole en huise moet ook verbied word omdat dit mense of partye toelaat om kinders as rassiste groot te maak, terwyl die Grondwet teen rassisme is.

AfriForum het om verskeie redes appèl aangeteken teen die Gelykheidshof se uitspraak dat die vertoon van die 1928-vlag (die ou Suid-Afrikaanse vlag) haatspraak is.

Die burgerregte-organisasie is sterk ten gunste van spraakvryheid, maar glo ook dat haatspraak beveg moet word.

AfriForum se standpunt is dat die feit dat die ou vlag vir sommige mense aanstoot gee, in terme van die bepalings van die Suid-Afrikaanse Grondwet, nie ’n geldige rede is om dit tot haatspraak te verklaar nie. Die organisasie se standpunt was nog altyd dat haatspraak plaasvind wanneer haat teen ’n groep mense gepropageer word op grond van hulle identiteit (byvoorbeeld hul ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens) én wanneer die uitspraak in hierdie verband gekombineer word met ’n aanhitsing om daardie groep skade aan te doen.

Aldus AfriForum het die uitspraak vroeër in die Hoogste Hof van Appèl in die saak van Qwelane vs. die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) hierdie standpunt bevestig.

Soortgelyke plasings