|

Uitspraak voorbehou in vlagsaak

Die burgerregteorganisasie AfriForum was vandag in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein om te appelleer teen die uitspraak van 2019 wat die vertoon van die ou Suid-Afrikaanse vlag in die meeste omstandighede, ook by privaat geleenthede, verbied. Uitspraak in hierdie saak is voorbehou.

AfriForum neem hierdie inisiatief ten spyte daarvan dat die organisasie self nie die ou Suid-Afrikaanse vlag vertoon nie. Die volslae verbod op die vertoon van die vlag skep die gevaarlike presedent dat enigiets wat aanstoot gee, verbied kan en moet word, selfs al is daar nie ’n oproep tot geweld of om skade aan te rig nie.

“As jy in vryheid van spraak glo, verdedig jy dit as dit aangeval word, selfs al is die verdediging daarvan omstrede. AfriForum glo vas in vryheid van spraak en uitdrukking, daarom sit ons hierdie saak voort,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“AfriForum se standpunt oor die ou Suid-Afrikaanse vlag doen nie afbreuk aan die organisasie se teenkanting teen ware haatspraak nie. Haatspraak is die propagering van haat teen ’n groep mense op grond van hul identiteit (byvoorbeeld hul ras, etnisiteit of geloof) en aanhitsing om die groep skade te berokken. Die wet kan nie aangewend word om mense te beskerm teen alles wat aanstoot gee nie, want die spektrum van wat verskillende mense aanstootlik vind, is byna eindeloos.”

Soortgelyke plasings