Uitspraak voorbehou in skolegodsdienssaak – AfriForum optimisties


Uitspraak is vandag voorbehou in die hofsaak tussen OGOD en Fedsas oor die beoefening van godsdiens in skole. AfriForum het die regsproses in dié saak – wat die afgelope drie dae in die Suid-Gautengse hoë hof aangehoor is – as van die grootste belang vir alle Suid-Afrikaners beskryf en glo dat Fedsas en verskeie ander vriende van die hof (insluitend AfriForum) die belang van godsdiensbeoefening oor die algemeen en Christelike godsdiensbeoefening in die besonder in skole deeglik beklemtoon het.

“As ’n uiterse diverse gemeenskap is dit vir Suid-Afrikaners noodsaaklik om van jongs af wedersydse erkenning en respek aan te leer vir mense wie se kulture en sienswyses van hulle eie verskil. Hulle moet ook leer om met hul eie identiteite gemaklik te wees, insluitend hul geloofsoortuigings. Dít is waarom ’n godsdienstige etos in skole behou moet word,” sê Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalsake.

Bailey verduidelik ook dat godsdiensbeoefening ook nie, soos OGOD voorstel, bloot tot aktiwiteit verskraal word wat kinders in pouses of voor of na skool soos ’n stokperdjie beoefen nie. Dit vorm die waardes en dus ook daaglikse optrede van die individu; daar moet vryheid wees om dit te beoefen en kinders moenie met die idee grootword dat hulle of hul onderwysers gestraf mag word as geloofaksies nie tot sekere tye en ruimtes beperk word nie. Godsdiensvryheid is immers een van die regte wat die Grondwet duidelik omskryf.
AfriForum beklemtoon dat die saak alle gelowe en dus die totale gemeenskap raak – die uitspraak gaan nie alleen die toekoms van openbare skole bepaal nie, maar ’n veel wyer impak hê.

Soortgelyke plasings