|

Uitstel van hofsake oor tolke wys AfriForum se kommer oor hoftaal is geldig

Twee hofsake moes vandeesweek uitgestel word omdat daar nie tolke in Afrikaans beskikbaar was nie.

Die een saak is die Coligny-moordverhoor van Pieter Doorewaard en Phillip Schutte wat van moord op ’n tiener beskuldig word. Die verrigtinge in die hooggeregshof in Mmabato in Noordwes het Dinsdag net begin toe dit geblyk het dat die tolk nie die aanklagte in Afrikaans aan die beskuldigdes kon stel nie. Die saak is uitgestel om eers ’n tolk te kry.

Die ander saak, waarin ’n weermagkorporaal Dinsdag in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn het nadat hy glo ’n vrou verlede jaar in die bors geskiet het, moes ook uitgestel word omdat die slagoffer, Carine van Staden, nie kon getuig nie. Sy sou in Afrikaans getuig het en die beskikbare tolk was in ’n ander verhoor besig. Dié saak moes tot Mei uitgestel word.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, meen die twee hofsake is sprekende voorbeelde van die ironiese uitdrukking in Engels naamlik: Justice delayed is justice denied.

Dit geld in beide sake, vir die aangeklaagdes, die slagoffers en die mense wat beide groepe ondersteun.  Bailey sê ander vrae wat ontstaan, is byvoorbeeld wie vir die regslui moet betaal wie se tyd so gemors is en wat die impak van uitstelle op die afhandeling van sake en oorvol hofrolle is.

Nog ’n vraag is hoeveel ander soortgelyke sake daar met tolkkrisisse is aangesien dié maar enkeles is waaroor die media deurlopend berig het.

“Die twee sake bewys presies waarom AfriForum aksie onderneem teen hoofregter Mogoeng Mogoeng se aankondiging van 2017 dat Engels voortaan die enigste taal van hofrekord sal wees.

“Telkens is ons kommer afgemaak as belaglik en is een van die redes wat aangevoer is dat die klaers en aangeklaagdes nou wel moontlik nie die rekord sal verstaan nie, maar dat die hofgebeure ten volle toeganklik vir hulle sal wees deur die gebruik van tolke.

“Duidelik is dit in praktyk nie die geval nie.  Howe sal moet ruimte skep vir meertalige funksionaliteit.  Tolke alleen is nie die oplossing nie en dit gaan meer kere geregtigheid vertraag of selfs in die wiele ry.  Die hoofregter se standpunt in die verband is kortsigtig en sy gebrek aan reaksie op versoeke van partye soos AfriForum om met hom hieroor in gesprek te tree, is teleurstellend,” meen Bailey.

Mogoeng is vroeër ook gewys op die 2011-sensussyfers wat bevind het dat net 9,6% van die bevolking Engels as huistaal beskou. Daarbenewens dui ’n opname van Regshulp SA wat in 2016 gedoen is daarop dat die primêre taal wat in siviele sake gebruik is op 21% Zoeloe, 20% Afrikaans en 16% Xhosa neergekom het.

Ook in strafsake is 24% Zoeloe, 22% Afrikaans en 20% Xhosa gebruik.

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) het ook al by herhaling ’n beroep op regters en landdroste gedoen om getrou te bly aan hul ampseed om die Grondwet te beskerm en te handhaaf en om burgerregte – waaronder taalregte – wat daarin verskans is, te gehoorsaam.

Regslui word ook aangemoedig om nie aan die taalimperialistiese besluit van net Engels gehoor te gee nie.

Soortgelyke plasings