|

Universiteite het plig om kwaliteit onderwyseropleiding ook in Afrikaans te doen

As kwaliteit onderwysers nie in Suid-Afrika opgelei word nie, sal eerstejaars wat by universiteite inskryf nie verbeter nie. Sonder kwaliteit onderwyseropleiding is die land nêrens heen op pad nie.

Só meen dr. Theuns Eloff, hoëronderwyskenner en uitvoerende direkteur van die van die F.W. de Klerk Stigting. Hy en ander sprekers het vandeesweek by ’n konferensie van die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) oor die opvoedkundige taak van die universiteit in die 21ste eeu gepraat.

Eloff het gesê die grondwet bepaal dat moedertaalonderrig moontlik is en gedoen kan word. Daarom het sommige universiteite die taak om kwaliteit onderwyseropleiding, ook in Afrikaans, te doen.

Hy het gesê daar is nêrens in die wêreld ’n universiteit wat bestaan net om ’n taal te behou nie. “Mense en instellings sal ’n fout maak deur te glo dat hulle sal oorleef bloot omdat hulle Afrikaans is. Studente sal nie na swak instellings gaan nie en daarom moet onderrig en opleiding in Afrikaans ook van wêreldklasgehalte wees.”

Eloff het ook na die taak van die universiteit verwys om studente op verskillende vlakke naamlik intellektueel, fisies, sosiaal, emosioneel en spiritueel toe te rus.

Hy het die voordele van residensiële universiteite beklemtoon waar jongmense as’t ware aan die groter wêreld blootgestel word en ook leer om in groepverband te funksioneer en hulself te vind.

Eloff het gesê kwaliteit onderrig is voortdurende en deurlopende verbetering. “Die onderwyser staan nie in isolasie nie. Die kennisontploffing kom tot in die klaskamer en daarom is die verbetering van onderwysers se vakkennis van kritiese belang. Skoolhoofde se grootste klagte oor personeel is dikwels hul gebrek aan vakkennis en nie hul pedagogiese vermoëns nie.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê dit is tyd dat Afrikaners besef dat die beloftes oor Afrikaans niks blywend beteken nie en dat die proses om dit as onderrigtaal te behou op die korttermyn deur optrede soos hofsake vertraag kan word.

“Daar is egter nie ’n volhoubare ‘tuisvoelplek’ vir Afrikaanse studente en dosente nie in die lig van die regering se transformasie-, dekolonialisasie- en rassetelling-ideologie.”

Buys meen die aanspraak en druk om Engels as enigste onderrigmedium by openbare universiteite af te dwing, is bloot ’n instrument wat die regering gebruik om sy eie ideologie af te dwing. “Die aanvaarding van liberale Engels as aanvaarbaar en fatsoenlik het bygedra tot die ideologiese ineenstorting van Afrikaans by openbare universiteite.”

Volgens Buys moet so lank moontlik gepoog word om openbare ruimtes te behou, maar terselfdertyd moet nuwe instellings geskep en versterk word. “Daar kan nie onbepaald met kulturele sterwensbegeleiding by ou instellings voortgegaan word nie.”

Hy het gesê teen die tempo wat Afrikaans by universiteite in duie stort, is daar nie meer vermoë om die Afrikaanse denkwêreld uit te bou nie. “Die dilemma is dat Engelse ideologiese oorheersing so sterk is dat Afrikaanses dit as normaal begin bestempel en nie weet hoe om intellektueel weerstand daarteen te bied nie.”
Buys het gesê die afskaffing van Afrikaans gaan universiteite onherkenbaar omskep en die politiek van transformasie gaan opleiding en onderrig afwater. Boonop wys kultuurbotsings op kampusse ook dat instellings uiteindelik die vorm van die meerderheid gaan aanneem.

Die uiteindelike oplossing is in eie instellings waar wêreldklasgehalte onderrig aangebied word en mense vir hul roeping en nie net beroepe voorberei word nie. “Jongmense moet tot selfstandighede denke gelei word en nie bloot net napraters van die hoofstroom word nie.”

Dr. Niklaas Roets, uitvoerende hoof van Aros, het gesê elke gemeenskap het sy eie universiteit nodig. Aros is met die programme wat hy aanbied reeds besig om te wys hoe ’n gemeenskapsinstelling aan ’n gemeenskap kan voorsien. Aros is ’n Christelike private hoër onderwysinstelling wat roepingsgedrewe studente oplei om die onderwysprofessie met kundigheid te betree.

Vir meer inligting oor grade en diplomas kan www.aros.ac.za besoek word.

Soortgelyke plasings