|

Universiteitsbesture moet oor deelname aan Sêr besluit ná herrie by UV

AfriForum Jeug Kovsies het vandeesmaand ingegryp en ʼn meningspeiling gedoen oor studente se gevoel oor die universiteit se deelname aan die jaarlikse nasionale ATKV-sêrkompetisie (sêr), nadat die voorsitter van die studenteraad (SR) by Kovsies, Lindokuhle Ntuli, in ʼn onlangse gespreksessie gesê het die SR het besluit om sy bande met die ATKV te verbreek.

“Die opname is gedoen om aan die universiteitsbestuur te wys hoe belangrik sêr vir studente is. Ons hoop dat die bestuur sal insien hoe belangrik hierdie tradisie vir Afrikaanse én Engelse studente is,” het Marike van As, woordvoerder van AfriForum Jeug Kovsies, gesê.

AfriForum Jeug het die bevindings van die peiling ten gunste van Sêr in ʼn skrywe aan die universiteit bekend gemaak waarna mev. Cornelia Faasen, direkteur van studentesake by die UV, aan AfriForum Jeug bevestig dat Sêr vanjaar normaal sal voortgaan. Die universiteit kan egter nie verseker dat die wenners toegelaat sal word om aan die nasionale rondte deel te neem nie.

Dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur van kultuur by die ATKV, het aan Forum Nuus gesê dat die ATKV baie graag alle universiteite, insluitend die UV wil betrek, maar dat die finale keuse egter by die besture van die kampusse lê.

Hy meen Afrikaans is ʼn diverse kultuur en dat daar erkenning aan hierdie diversiteit gegee moet word. Hy is van mening dat die onlangse herrie rakende die groepsangkompetisie ontstaan het omdat mense oningelig is.

“Ons moet meer mense betrek en inlig oor hierdie tipe aktiwiteite en die stereotipies daar rondom probeer regstel. As meer mense dit kyk en ervaar, glo ons kan dit nog ʼn lang leeftyd hê. Kultuur is egter die beste manier om saam te bou aan die land.”

Die ATKV-sêrkompetisie is een van die land se grootse nasionale groepsangkompetisies. Die oorsprong van hierdie eeue-oue tradisie van serenade, kom volgens die ATKV van die dae toe mans vir hul geliefdes gesing het om hul harte te wen. Deelnemende universiteit sluit in die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit, die Universiteit van Stellenbosch, die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Pretoria.

AfriForum Jeug Kovsies se meningspeiling het bevind dat 99% van studente wat aan dié peiling deelgeneem het, ten gunste daarvan is dat die UV se deelname aan die sêrkompetisie moet voortgaan.

Nyakallo Modise, ʼn tweedejaarstudent aan die UV, het aan Forum Nuus gesê sy dink Sêr moet by Kovsies behoue bly. “Dit was nog al die jare hier ʼn kenmerkende studente-aktiwiteit en dit gee vir studente die geleentheid om hul talente uit te leef. Studente geniet dit, dis altyd lekker om deel daarvan te wees en dit vorm deel van ʼn gebalanseerde studentelewe.”

Altesaam 527 individue, wat ouers, studente, oudstudente en voornemende studente insluit, het aan die peiling deelgeneem, waarvan 420 Afrikaanse én Engelse ingeskrewe studente was.

Die peiling en uitslag het soos volg gelyk:

Moet die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Kleinsêr as deel van die ATKV se nasionale sêrkompetisie voortgaan? Het jy al ooit van die ATKV Kleinsêr uitgesluit gevoel? Moet Kovsies sêr herstruktureer en onder ʼn nuwe naam en regulasie laat funksioneer?
JA 99% 5% 9%
NEE 1% 95% 91%

 

Daar was ook vanjaar probleme met dié nasionale kompetisie by die Universiteit van Pretoria (UP) weens sogenaamde transformasie. Die UP-manskoshuis, Sonop, wat bekend is vir hul treffende deelname aan dié kompetisie, het ʼn week voor die geleentheid onttrek, weens beweerde dreigemente en ʼn “gebrek aan transformasie”.

Die studente-kultuurkomitee (STUKU) van die UP het op sosiale media gesê dat Sonop besluit het om te onttrek weens “kwessies rakende transformasie” en dat die koshuis die universiteit se “welstand in ag geneem het” deur te onttrek.

Ondanks Sonop se ontrekking, het EFF-studente steeds die geleentheid, wat verlede Vrydag plaasgevind het, probeer ontwrig. Kampus-sekuriteit het egter ingetree en die geleentheid het suksesvol afgeloop.

AfriForum Jeug moedig steeds alle studente aan om aan die meningspeiling deel te neem. Volg die skakel om aan te sluit by jou kampus se AfriForum Jeug tak en ondersteun die behoud van gesonde studente aktiwiteite: http://afriforumjeug.co.za/sluit-aan/

Soortgelyke plasings