|

Upington-tak en DA maak speelpark skoon vir kinders

Die AfriForum-tak in Upington het in samewerking met die DA op 10 en 11 Augustus 2022 ’n verwaarloosde speelparkie in Stasiekamp opgeruim.

Sowat 16 ton bourommel en vullis is weggery. Eric Walker, ’n plaaslike sakeman, het drie stortbakke voorsien om te help om die rommel te verwyder.

“Gemeenskaplike speelgronde bied ’n magdom voordele, wat veel verder gaan as estetika en om kinders iets lekker te gee om te doen. Dit is die hart van ’n gemeenskap en ’n onontbeerlike bymekaarkomplek waarby almal kan baat,” sê Erica Strauss, ’n DA-raadslid.

“Hierdie speelparke bied kinders die geleentheid om sleutelvaardighede te oefen en te slyp, insluitend sosiale, emosionele, kognitiewe en fisieke vaardighede,” sê Werner Strauss, distrikskoördineerder vir die Kalahari.

“Kinders leer voortdurend deur middel van speel om nuwe vriende te maak, om te deel, om beurte te maak en bou interaksie met ander kinders. Dit is net hartseer dat die plaaslike owerhede kon toelaat dat speelparkies in die armer en ouer woongebiede van die dorp verval.”

Sluit vandag nog aan by hierdie tak om ’n verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Upington” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings