UV neem kortsigtige besluit dat Steyn-standbeeld moet skuif in die naam van ’n omgeeprojek


Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het vandag besluit om die Pres. M.T. Steyn-standbeeld – wat tans op die Kovsie-kampus geleë is – na die Oorlogsmuseum in Bloemfontein te verskuif, langs die Vrouemonument. Dít is ook waar Steyn ter ruste gelê is.
AfriForum Jeug is van mening dat die standbeeld hier die nodige erkenning en respek sal ontvang wat dit toekom en is dankbaar vir die bewaring daarvan, asook dat die Steyn-familie se wense in ag geneem is in die verskuiwingsproses.
Die verskuiwing van Steyn se standbeeld laat egter by AfriForum Jeug die vraag ontstaan oor of Afrikanerstudente nog welkom is op die UV-kampus. AfriForum Jeug is van mening dat só ’n besluit kulturele polarisasie op die kampus kan vererger.
Die UV hou voor dat hulle besluit om die standbeeld te skuif gemotiveer word deur ’n inisiatief deur kampusbestuur om ’n “omgeekultuur op kampus te skep waar studente moet omgee vir mekaar se geskiedenis en erfenis”.

“Die werklikheid is egter dat die UV met hierdie skuif ’n presedent skep en juis nie wedersydse erkenning en respek vir verskillende kulture bevorder nie, maar eerder ’n spesifiek geteikende erfenis verwyder,” sê Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusstrukture.
“Om ’n projek van omgee vir mekaar se geskiedenis en erfenis van stapel te stuur deur ’n groep van jou studente se erfenis vanaf die kampus te verwyder, weerspreek duidelik die bedoeling van só ’n projek en laat die vraag ontstaan of die UV dan net vir sekere studente se erfenis en geskiedenis omgee en nie vir ander s’n nie,” sê Fourie.

Die UV-bestuur probeer dit duidelik maak dat hulle die universiteitsburgerskap wat met só ’n omgeekultuur gepaardgaan wil beklemtoon, maar terselfdertyd wys hulle geen begrip vir die vervreemding en uitsluiting wat die verwydering van ’n sekere groep studente se erfenis vanaf die kampus by hierdie studente kan veroorsaak nie.

“AfriForum Jeug is baie bekommerd dat hierdie projek meer omgee vir sekere groepe studente as vir ander en daarom verdeeldheid onder studente kan veroorsaak en nie die jeug sal leer om ten spyte van hulle verskille steeds respek vir mekaar te hê nie,” sluit Fourie af.

 

Soortgelyke plasings