Vaaldriehoek- en Wes-Rand-vullisterreine in haglike toestand

 


AfriForum het vandeesmaand vullisterreine in sowel die Vaaldriehoek as die Wes-Rand geoudit as deel van dié burgerregtewaghond se nasionale projek om die stand van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.
Tydens die oudit word vullisterreine in dorpe waar AfriForum-takke gevestig is aan die hand van 33 vrae gemeet om te bepaal of daar aan nasionale standaarde voldoen word.
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (Wet No. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen waaronder toegangsbeheer, stortingsregulasies, lisensiëring, brand­regulasies, omheining en rehabilitasie. Die meerderheid vullisterreine wat deur AfriForum in die Vaaldriehoek en Wes-Rand geoudit is, het egter nie die 80%-slaagsyfer behaal nie en is dus nie op standaard nie.
Die uitslae lyk soos volg:
 

Dorpe Vullisterrein Persentasie
Vaaldriehoek:
Vanderbijlpark Emfuleni 28%
Meyerton Midvaal 96%
Heidelberg Lesedi 18%
Wes-Rand:
Westonaria Rand West City 47%
Randfontein Rand West City 33%

“Algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit ondervind het, is onder meer mense wat op die vullisterreine rondloop en woon – wat ’n reusegesondheidsrisiko inhou – asook die tekort aan instandhouding van die terreine se omheinings en hekke,” sê Wico Swanepoel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Suid.

AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine wat tekortskiet op peil gebring word.

Soortgelyke plasings