|

Van Zyl-plaasaanval: AfriForum neem deel aan versetstoet in Naboomspruit

AfriForum se veiligheidstrukture het vandag aan die versetstoet teen plaasaanvalle in Naboomspruit deelgeneem, waar drie verdagtes in ’n plaasmoord vandag in die plaaslike landdroshof verskyn het.

Alwyn van Zyl (79) is in Maart vanjaar tydens ’n aanval op sy plaas by Badseloop naby Naboomspruit vasgebind en verwurg. Sy vrou, René (66), is aangerand. Die Van Zyl-egpaar is na bewering om middernag deur vyf verdagtes in hul huis aangeval. Drie van die vyf verdagtes is intussen in hegtenis geneem en het vandag in die hof verskyn. Die saak is tot 7 Oktober uitgestel en die hof het beveel dat een van die verdagtes mediese behandeling ontvang nadat hy glo aangerand is.

Vandag se optog – wat bestaan het uit verskeie organisasies, landelike veiligheidstrukture en lede van die gemeenskap – het ten doel om boere en gemeenskappe se misnoeë te kenne te gee oor die vlaag plaasaanvalle wat die land teister en om solidariteit met die Van Zyl-familie te toon.

“Hoewel dit baie hartseer omstandighede is wat ons bymekaar bring, is dit verblydend om te sien dat lede van die gemeenskap hul al meer teen plaasaanvalle verset. AfriForum sal aanhou om bewustheid oor plaasaanvalle te skep en te help om gemeenskappe teen dié misdade weerbaar te maak. As ons vandag hier uitmekaar gaan, gaan ons terug na ons buurt- en plaaswagte. Dieselfde bakkies wat vandag aan die optog deelgeneem het, moet vanaand en elke aand daarna ook saam uitgaan en patrollie ry. Ons sál saam weerstand bied teen hierdie laakbare aanslag,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Volgens Magdel Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, is genoeg nou genoeg. “Gemeenskappe moet saamstaan en hul veiligheid prioritiseer. Ons wil mense graag aanmoedig om by hul plaaslike veiligheidstrukture betrokke te raak om die gemeenskap weerbaar te maak.”

Soortgelyke plasings