Vanderbijlpark staan saam teen misdaad

 

AfriForum se buurtwagtak in Vanderbijlpark het Maandagoggend bystand aan die plaaslike polisie gebied ná drie gewapende rowers by ’n eenheid in ’n meenthuiskompleks in Firstraat ingebreek het en deur ’n inwoner geskiet is.
Die voorval het omstreeks 10:30 Maandagoggend plaasgevind. Volgens Marie Naudé, AfriForum se assistentkoördineerder vir Gauteng, het ’n inwoner van die kompleks die drie mans betrap waar hulle besig was om die meenthuis te besteel. Die inwoner het die mans gekonfronteer, waarna hulle onder meer ’n vuurwapen uitgepluk het. Die inwoner, wat sy eie vuurwapen by hom gehad het, het een van die rowers doodgeskiet en ’n ander beseer. Die beseerde rower het saam met die derde rower gevlug. ’n Ander inwoner het volgens Naudé die polisie en buurtwag ontbied.
Die buurtwag het in samewerking met die polisie en verskeie sekuriteitsmaatskappye bystand op die toneel gebied asook gehelp om die rowers agterna te sit. Die beseerde rower is aangekeer en in hegtenis geneem.

“Waar gemeenskappe saamstaan, kan misdaad effektief bekamp word,” sê Corné Cronje, voorsitter van AfriForum se Vanderbijlpark-buurtwagtak.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om deel te raak van hul plaaslike buurtwagte. SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings