|

#VATJOUKUNSTETERUG

Deur Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Die COVID-19-pandemie het ’n negatiewe impak op vele terreine. Ook die kunste en in besonder die Afrikaanse kunste het ernstig deurgeloop. Dit word vererger deur die feit dat Afrikaans as openbare taal geknou is weens tradisioneel Afrikaanse instellings wat verengels het.

Ons kan terugsit en in moedeloosheid verval – of self iets daaraan doen. AfriForum en die Solidariteit Beweging kies laasgenoemde opsie. Ons gaan nie slagoffer van die geskiedenis word nie, maar gaan eerder aan ’n nuwe toekoms help skryf deur selfdoeninstellings te vestig. Op dié wyse kan ons gemeenskap self vir ons gemeenskap, nageslag en die Afrikaanse taal en kultuur ’n blywend vrye, veilige en voorspoedige tuiste te vestig. Net soos wat die Solidariteit Beweging se nuwe Sol-Tech-kampus ’n plek bied waar ons sélf kan verseker dat Afrikaans sy plek in naskoolse onderrig vol staan, het AfriForum besluit om ’n teater te open om ’n plek te bied waar Afrikaanse kunste tot hul reg kom. Ons vat inderwaarheid die Afrikaanse kunste terug van die COVID-19-pad van agteruitgang. Die beste tyd om te begin bou is nóú – selfs al is ons steeds in die wurggreep van COVID-19.

AfriForum kondig daarom met trots aan dat dié nuut gestigte teater, wat as die AfriForum Teater bekendstaan, geopen word die perseel wat voorheen as die Brooklyn Teater bekendgestaan het. Dié 380 sitplek teater is geleë in Menlopark se Greenlyn Village-sentrum. ’n Nuwe restaurant genaamd PRONK is ook op die perseel van die AfriForum Teater geopen.

’n Wye verskeidenheid Afrikaanse kunste, kunstenaars, asook gemeenskap- en skoolkultuurgeleenthede sal in die toekoms by die AfriForum Teater op die planke gebring word.

Die teater is amptelik op 6 en 7 Maart 2021 vir die publiek oopgestel met die gewilde vertoning Die storie van Afrikaanse musiek deur Pieter Smit en Nagliedjies deur die komponis/pianis Franco Prinsloo.

Besprekings by die teater kan gedoen word by teater@afriforum.co.za.

Besoek gerus die AfriForum Teater-webtuiste by www.afriforumteater.co.za.

Soortgelyke plasings