|

Veertig jaar ná NP/KP-skeuring is Afrikaners se enigste oplossing “vorentoe”

Die skeuring tussen die Nasionale Party (NP) en die Konserwatiewe Party (KP) op 24 Februarie 1982 het die volk “van bo tot onder middeldeur geskeur”.

Daar het nie net ’n politieke rif tussen hulle ontstaan nie. Dit het ook gelei tot die skeuring van die Afrikaner se instellings soos die Afrikanerbond (AB), die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die NG Kerk.

Vanjaar 40 jaar later is die vraag: Wat kan Afrikaners vir die volgende 40 jaar uit dié skeuring leer?

Die Erfenisstigting het gisteraand ’n gespreksessie by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebied waaraan Barend du Plessis, oudminister van finansies en NP-LV, dr. Koos van der Merwe, oud-KP-LV, en dr. Stoffel van der Merwe, oudminister van onderwys en NP-LV, deelgeneem het. Ds. Cassie Aucamp het die gesprek gefasiliteer. Daarna het dr. Pieter Mulder, politieke ontleder en voormalige leier van die VF Plus, en Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, repliek gelewer.

Die sprekers was dit eens dat daar baie foute in die verlede gemaak is, maar dat dit geen sin het om vandag nog ’n wrok te dra, met woede te reageer of verwyte na mekaar te slinger nie. Daar moet eerder gekyk word na lesse wat geleer is en op oplossings vir die toekoms fokus.

Du Plessis het gesê die skeuring in die politiek het landwyd by baie Afrikaners aanklank gevind en dit het hul strukture ingrypend verander. “Afrikaners het geldige redes gehad om verdeeld te wees, maar hulle het nie oor hul verskille met mekaar gepraat nie. Dit het tot die skeuring gelei, maar dit is verby en daar is nie meer geldige redes om verdeeld te wees nie. As dit (die skeuring) voortgaan verswak ons onsself en die bydrae wat ons tot die land kan lewer. Ons het die reg om van en met mekaar te verskil, maar dit moet met verantwoordelikheid gepaard gaan.”

Barend du Plessis, oudminister van finansies en NP-LV

Du Plessis sê daar is nie gepraat om verdeeldhede te hanteer nie. Die NP is na die onderhandelingstafel sonder bewese leierskap, gesamentlike planne en strategieë. Daarteenoor was daar samehorigheid tussen Nelson Mandela en swart mense. “Ons was verdeeld en op ons swakste en hulle sterk.”

Hy het verduidelik hoe daar uiteenlopende sienings oor apartheid was en hoe politieke leiers van die tyd gedink het dit is die oplossing vir die land. Daar is egter nie met ontwikkeling in die land en die uitvoerbaarheid van onder meer die tuislandbeleid rekening gehou nie. Daar was al meer twyfel oor regeringsbeleid en die konsolidasie van tuislande het al moeiliker en onbekostigbaar geword. Daar was ook groeiende verset teen diskriminerende praktyke van die NP.

Volgens Du Plessis was daar nie maklike oplossings nie en leiers het apartheid na die beste van hul vermoë probeer implementeer.

Met die skeuring het die terme verlig en verkramp na vore gekom. Dit het eerder etikette om mense se nekke gehang en hul verder uitmekaar gedryf eerder as wat daar saam na oplossings gesoek is.

“My bede was en is dat ons Afrikaners die letsels van die verlede deur versoening oorkom en dat daar heling kom sodat ons ons kragte kan aanwend om ons lewens te lei.”

Koos van der Merwe het gesê Afrikaners het nog altyd die aanslae teen hulle oorkom. Van die vroegste oorloë in 1802 aan die Oosgrens tot die verliese wat tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) gely is, het Afrikaners die ongelooflike vermoë gehad om ondanks aanslae op te staan en die suksesvolste land te bou. “Ons kan nie gebuig word nie. Ons moet nou ook streef om met dieselfde krag en geloof ons krisisse te oorkom en sê: Ons sal self!”

Dr. Koos van der Merwe, oud-KP-LV

Volgens Van der Merwe was die skeuring die einde van die Afrikanervolk se vorige identiteit naamlik dat hul ’n volk in eie reg is wat hulself kan regeer. Dit is vervang met een van “afsonderlike ontwikkeling werk nie en daar moet na gesonde magsdeling gekyk word. Magsdeling het egter tot swart magsoorheersing gelei.”

Hy sê soos wat daar ’n verandering in volksidenteit gekom het, moet Afrikaners vandag na die werklikheid, soos die bevolkingsaanwas van swart mense, in die land kyk.

“Ons moet die toekoms bou op die feit dat ons volk nooit weer die land sal regeer nie, dat Afrikaners net self hul krisis kan hanteer en dat ons met selfvertroue ons plek moet inneem en ons talente moet aanwend.”

Stoffel van der Merwe het gewys op pogings vandag om die Afrikaner se geskiedenis uit te vee en uit te wis. “Ons hoor alles wat verkeerd is, is apartheid en die Afrikaner se skuld.”

Dr. Stoffel van der Merwe, oudminister van onderwys en NP-LV

Volgens hom was Afrikaners lank voor 1982 se skeuring al verdeeld. Elke honderd jaar met die draai van die eeu was die Afrikaners in die moeilikheid en het hulle verskillende besluite geneem om daar uit te kom soos om te trek.

Van der Merwe sê die huidige regering is vrot en Afrikaners sal nou moet selfdoen. Hy meen egter die volgende hoofstuk na “Ons sal self”, is saamdoen. “En dít is die boodskap vir die Afrikaner vorentoe.”

Mulder het etlike lesse uitgelig en gesê net soos wat die Afrikaner met diversiteit in die land moet saamleef moet hulle ook diversiteit van mekaar aanvaar. “Etikette soos verlig en verkramp het destyds debatte tussen Afrikaners gesmoor wat deur die media aangehelp is.”

Hy meen dit is moeilik om mense met verskille in die politiek te hou en dit is jammer dat dit ook nie in die verlede op kultuurgebied reggekry is nie.

Volgens Mulder moet vryheid met geregtigheid nagestreef word. Dit is nie altyd maklik nie. Almal soek na oorlewing vir hul eie mense. Hy het verwys na sakelui wat na vore tree om te help om ’n verskil in die land te maak soos in die geval van byvoorbeeld die poskantoor, Mango en Denel.

“Ons dink ons help ’n bietjie, maar daar is maar skepsisme daaroor. Aan die einde van die dag moet jy na jou eie mense kyk. Die oplossing is selfbeskikking en daar moet gekyk word wat ander lande doen. Tree vir tree word daarby uitgekom en federale beginsels is deel van dié debat.”

Buys het gesê dit help nie om kritiek te lewer nie. Nie op die verlede of selfs die hede nie. Die enigste oplossing is om aan alternatiewe te werk en dit in praktyk in werking te stel.

“Dit help nie om toestemming te vra om dinge te doen nie. Doen dit en kry maar na die tyd erkenning.”

Hy het ook etlike lesse uitgewys naamlik dat daar nie in die verdeeldheid van die verlede vasgeval moet word nie. Daar moet eerder op volksveelheid as volkseenheid gefokus word. Afrikaners het nie nodig om iets teen te staan waarmee hulle verskil nie. Hulle moet eerder hul gewig sit agter dit waarmee hulle wel saamstem.

Buys meen ’n deurdagte plan is nodig om ’n toekoms te skep. “’n Plan is egter ook net ’n idee. Om die plan uit te voer, is ’n ander saak. Dis baie keer soos om in stroop te swem.”

Oor Suid-Afrika sê Buys sentralisme is nie die oplossing soos wat die ANC probeer nie. “Suid-Afrika is groter as agt Europese lande en niemand sal dink om daardie lande sentraal te regeer.

“Ons moet doen wat ons kan en na gemeenskapsoplossings kyk. Ons moet ook die demografie in ag neem, want is dit baie meer bepalend as demokrasie.”

Buys waarsku dat dit nie help om heimwee na die verlede te hê of na die nuwe of ou Suid-Afrika te verlang nie. “Ons moet werk met ’n veranderende Suid-Afrika en die werklikheid. Staatkundige verandering is nodig en die ANC sal dit nie kan terughou nie. ’n Nuwe bedeling is besig om van onder af gestalte te kry, of die ANC nou daarvan hou of nie.”

Soortgelyke plasings