|

#VegEnBou-veldtog: Upington-tak maak dorp skoon

Die AfriForum-tak in Upington het van 2 tot 7 Maart 2020 verskeie projekte in dié dorp uitgevoer om die algehele beeld van die dorp te verbeter.

Die tak het begin deur spekbome by die Oranjehof-ouetehuis te plant en hulle het ook ’n groot deel van die tuin opgeknap. ’n Omvattende skoonmaakdag is op 4 en 5 Maart op die N14 gehou waartydens vullis opgetel en bome op die staproetes langs die oostelike hoofpad gesnoei is. Ongeveer 280 sakke rommel is opgetel.

Die tak het op 6 Maart drie plaaslike tandartse met pizza en koeldrank bederf as deel van Nasionale Tandartsdag.

’n Reuseskoonmaakprojek is op 7 Maart langs die Oranjerivier gehou en bottels, blikke en plastiek is uit die rivier verwyder. Sakkie se Arkie het motorbote vir dié projek beskikbaar gestel en die dag is met ’n heerlike braai afgesluit om die onderskeie borge te bedank.

“Ons wil graag die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit uitdaag om die res van die N14 tot by die vullisterreinpad skoon te maak. Ons wil ook versoek dat daar strenger opgetree word teen inwoners wat hul tuin- en ander vullis in openbare plekke stort,” sê Werner Strauss, AfriForum se Distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Die Upington-tak wil graag almal wat betrokke was, asook die borge vir hul bydraes bedank – sonder hulle sou die projek nie ’n sukses kon wees nie.

Raak by AfriForum se Upington-tak betrokke om deel van die oplossing te word: SMS Upington na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings