| |

#VegEnBou-week: AfriForum skep hoop in Standerton  

AfriForum se Standerton-tak het van 7 tot 11 September sy #VegEnBou-week in dié dorp gehou. Taklede, vrywilligers, plaaslike ondernemings én skoolleerders het deur die loop van die week saamgewerk om die dorp op te knap en hoop te skep in dié gemeenskap wat veral onder swak dienslewering en grootskaalse besoedeling gebuk gaan.

Byna 500 vragmotors ry daagliks deur Standerton en die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit versuim om dié dorp se besige paaie in stand te hou. Daarom is sowat 300 sakke teer gebruik om die paaie op te knap.

Padtekens rondom die Laerskool Standerton is ook nuut oorgeverf om die veiligheid van leerders te verseker.

Die gevaarlike Bethal-Standerton-kruising is beveilig danksy katogies wat aangebring en padtekens wat opgerig is. Die tak se jeugvleuel het ook die omgewing rondom hierdie kruising skoongemaak en die Voetsporemonument buite die dorp opgeknap.

Talle slaggate is deur die loop van die week opgevul en betonstraatnaamblokke is ook vervang. Tak- en jeugvleuellede het ook ’n groot skoonmaakprojek by die Rivierpark gehou en meer as 25 bome is by dié vyf skole in die dorp geplant: Laerskool Standerton, Hoërskool Standerton, Laerskool Kalie de Haas, Standerton Primary School en Laerskool Jeugkrag.

’n Patrollie is gehou waartydens 18 patrolleerders sowat 115 km afgelê het, terwyl veiligheidsoudits onder meer by die Laerskool Standerton, Hoërskool Standerton en Laerskool Kalie de Haas uitgevoer is. Die tak het ook plaaslike ondernemings met middagete van Kabous Pizza bederf en 160 boereworsrolle by die Kosmos-tehuis vir bejaardes uitgedeel.

Die tak wil graag die volgende ondernemings en skole bedank vir hulle hulp en volgehoue ondersteuning tydens die week: Midas, Mica, Spar, Kruger & Associates, Clear Water Plumbing, Ola Standerton, Kabous Pizza, Mr Soapy, Valerie’s Bloemiste, Dandelion-J Coffee Shop, The Guest House, Happy Plastic, Standerton Bag, Oasis Water, Classics Signs, Pro Sport, Ons Winkel Standerton, Lekwa Clean-up Group, Compass Eiendomme, Engen Sonlig-vulstasie, Appledew Gastehuis, Bliss Studio Fotografie, Carmen Motors, Stanfin Apteek, Meat Masters en die Laerskool Standerton.

“Dit was verblydend om te sien hoe die Standerton-gemeenskap kon saamwerk om hoop in dié dorp te skep,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Soortgelyke plasings