|

Verbanning van simbole en uitsprake links en regs kan SA polisiestaat maak

Suid-Afrika loop groot gevaar indien vryheid van spraak nie voldoende beskerm word nie en alle uitsprake en simbole wat aanstoot gee tot haatspraak verklaar word.

AfriForum het vandag by monde van Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die organisasie, en Ernst Roets, hoof van beleid en aksie, verduidelik waarom die organisasie teen die gelykheidshof se uitspraak oor die ou Suid-Afrikaanse vlag gaan appelleer.

Regter Phineas Mojapelo het vroeër beslis dat die vertoon van die 1928-vlag (die ou Suid-Afrikaanse vlag) haatspraak is.

Kriel sê vryheid van spraak is die hoeksteen van ’n oop en demokratiese samelewing en indien dié beginsel, wat in die Grondwet vervat is, nie erken en beskerm word nie, kan ’n situasie soos in Noord-Korea geskep word waar “alles wat nie verbode is nie, verpligtend is”.

Volgens Kriel moet mense standpunte kan huldig waarmee nie almal saamstem nie.

“Alle mense se waardigheid moet verdedig en gerespekteer word. Dinge wat vir sommige mense aanstootlik is, kan egter nie outomaties haatspraak wees nie. Ons glo dit is belangrik om te veg vir mense se reg om van ons te verskil. Terwyl AfriForum sterk ten gunste van spraakvryheid is, glo ons ook dat daadwerklike haatspraak beveg moet word.”

Volgens Roets was AfriForum se standpunt nog altyd dat haatspraak plaasvind wanneer haat teen ’n groep mense gepropageer word op grond van hulle identiteit (byvoorbeeld hul ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens) én wanneer die uitspraak in hierdie verband gekombineer word met ’n aanhitsing om daardie groep skade te berokken of geweld aan te doen. Die onlangse uitspraak van die hoogste hof van appèl in die saak van Qwelane vs. die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het hierdie standpunt bevestig.

Roets meen dit is die korrekte vertolking van die Grondwet se bepalings oor haatspraak en hoop dat die Konstitusionele Hof dit sal beaam en bevestig. “Ons glo dat die appèlhof se uitspraak AfriForum se saak sal versterk, maar dat dit terselfdertyd nie ’n nadelige impak sal hê op ander haatspraaksake waarby AfriForum betrokke is nie, aangesien daardie sake juis oor aanhitsing gaan en nie bloot oor aanstootlikheid nie.”

AfriForum het ook die Konstitusionele Hof se besluit om die Nelson Mandela-stigting (NMS) se aansoek om appèl oor die vlagtwietsaak uit te gooi verwelkom. Die hof het beslis dat dit nie in belang van geregtigheid is dat die appèlsaak aangehoor word nie. Dít volg nadat die NMS by die Konstitusionele Hof aansoek gedoen het dat die klag van beweerde minagting van die hof deur Roets op appèl geneem moet word.

AfriForum se standpunt oor die vertoon van die ou Suid-Afrikaanse vlag en die vraag of dit haatspraak is kan soos volg opgesom word:

  1. AfriForum gee erkenning aan die feit dat die vertoon van die 1928-vlag aan ’n deel van die bevolking aanstoot gee. Dit is ook die rede waarom AfriForum nie die vlag vertoon nie. AfriForum is verbind tot die bevordering van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe.
  2. Die vertoon van die vlag kan slegs op haatspraak neerkom indien dit gekombineer word met ’n boodskap wat mense op grond van hul ras of etnisiteit teiken en die boodskap ook ’n aanhitsing bevat om daardie groep skade aan te doen. In die afwesigheid van so ’n boodskap is die aanstoot wat die vlag kan gee, nie voldoende om dit in terme van die Grondwet se bepalings tot haatspraak te verklaar nie.
  3. AfriForum is sterk ten gunste van vryheid van spraak en glo terselfdertyd dat daadwerklike haatspraak beveg moet word.
  4. AfriForum is van mening dat ’n verbanning van die vlag die teenoorgestelde effek sal hê as wat daarmee beoog word, naamlik dat dit die vlag meer gewild maak juis omdat die onderdrukking van spraakvryheid ’n teenreaksie skep. Die publieke reaksie op die gelykheidshof se uitspraak bevestig dit alreeds.
  5. Om AfriForum se verdediging van vryheid van spraak in hierdie saak te vertolk as ’n poging om die skending van mense se waardigheid tydens apartheid te regverdig , is ’n moedswillige verdraaiing van AfriForum se standpunt.

Soortgelyke plasings