|

Verhoor van Isabel van Coller se “moordenaar” weereens uitgestel weens staat se versuim

Die saak teen Biazza Goliath vir die moord op Isabel van Coller in November 2019 is vandag in die Suid-Gautengse Hooggeregshof uitgestel na 3 Oktober 2022 vir die opsporing van ’n hoofgetuie. Dit volg nadat die saak vir twee weke vir verhoor geplaas is wat vandag moes begin. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid tree op ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag van Harriet Ackerman, die tweelingsuster van Van Coller en ’n senior aanklaer by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Goliath is reeds gevonnis vir ander misdade en dien tans gevangenisstraf uit in die Johannesburg Korrektiewe Sentrum.

Van Coller is op die oggend van 15 November 2019 tydens ’n kaping in Bramley in Johannesburg doodgeskiet. Goliath, wat vanuit beeldmateriaal van die kaping blyk die skoot af te gevuur en in Van Coller se voertuig weggejaag het, staan tereg op klagtes van moord en roof met verswarende omstandighede. Die NVG het aanvanklik die saak teruggetrek, maar nadat die privaatvervolgingseenheid in Mei 2021 vertoë aan adv. Masenyani Andrew Chauke, die Direkteur van Openbare Vervolging in Suid-Gauteng (DOV) gerig het, is die saak weer op die rol geplaas en na die hooggeregshof oorgeplaas.

Ná AfriForum se vertoë het die NVG egter te kenne gegee dat hulle twee van die verdagtes wat na bewering betrokke was by die kaping, kon opspoor en dat een persoon nou ’n staatsgetuie is kragtens artikel 204 van die Strafproseswet 51 van 1977 in die saak teen die vermeende moordenaar. Dit is hierdie getuie wat nou weer deur die ondersoekbeampte opgespoor moet word. Die ander verdagte is egter weer soek.

“Die staat se onvermoë om die getuie vandag voor die hof te kry beteken dat geregtigheid weereens vertraag word. Die gemeenskap het ’n reg om te weet waarom hierdie getuie nie deur die polisie gemonitor is en vandag in die hof kon getuig nie. Die onvermoë om hierdie saak reg te hanteer, is van die begin af duidelik – die dossier het byvoorbeeld vermis geraak en moes gerekonstrueer word. Vandag het ons ook gesien dat die familie, wat van ver af gereis het om hier te wees, weereens deur die sisteem in die steek gelaat is. Die staat se gebrek aan kommunikasie met die familie kan ook nie verskoon word nie, Die blote feit dat die staat nie gevra het vir die uitreiking van ’n lasbrief nie, is tekenend dat die getuie nooit gedagvaar is nie. Ons weet steeds nie watter stappe, indien enige, die polisie gedoen het om te verseker dat die getuie by die hof is nie,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Ackerman, wat van Oos-Londen af gery het met die hoop dat die verhoor vandag sou begin, was duidelik gefrustreerd met vandag se verrigtinge. Sy het gesê dat die staat haar en haar familie aan sekondêre trauma blootstel as gevolg van die konstante vertragings en gebrek aan kommunikasie. Sy het tydens ’n onderhoud weer gewys op die ironie dat sy selfs as aanklaer genoop was om AfriForum se hulp in te roep en dat daarna eers voldoende aandag aan die saak geskenk is.

Soortgelyke plasings