|

Verhoor van weermagoffisier wat MIV “versprei” wéér uitgestel; prokureur versuim om op te daag

Die verhoor van die beskuldigde op ’n klag van poging tot moord nadat hy na bewering ’n slagoffer met MIV besmet het, terwyl hy geweet het dat hy die virus het en hierdie feit verswyg en ontken het, is vandag in die Landdroshof in Pretoria uitgestel tot 20 Oktober 2021 om ’n nuwe verhoordatum vas te stel. Die verhoor sou vandag begin het, maar die beskuldigde se prokureur het versuim om op te daag omdat hy na bewering siek is. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het, namens die klaer en haar familie, ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak. Sowel die beskuldigde as die klaer was ten tyde van die pleeg van die beweerde misdryf lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.

“Dit blyk dat beskuldigdes toenemend vertragingstaktieke inspan om vervolging te vermy. Die howe behoort, in belang van geregtigheid, sterk standpunt in te neem teen diesulke taktieke. Dit is nie die eerste keer dat die saak uitgestel is as gevolg van die beskuldigde nie en die klaer in die saak was behoorlik deur die aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag voorberei om vandag te getuig. Die sekondêre trauma wat sy nou moet deurmaak weens die voortdurende sloer van hierdie saak sedert 2016 is onverskoonbaar. Desnieteenstaande, is sy steeds baie dapper en ons sal voortgaan om haar te ondersteun ten einde die onreg reg te stel,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings