|

Verhoordatum vir privaat vervolging van Alexis Bizos vasgestel

Alexis Bizos, seun van Adv. George Bizos, het vandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn op ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het as aanklaer opgetree namens die slagoffer, Monique van Oosterhout, wat ten tyde van die voorval met Alexis Bizos getroud was. Die verhoordatum is voorlopig tot 4 Mei 2020 vasgestel.

Bizos het Van Oosterhout na bewering in 2015 aangerand en ses van haar ribbes gebreek. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik geweier om hom te vervolg. Nadat AfriForum in 2018 aangekondig het dat hulle aansoek gedoen het om ’n nolle prosequi-sertifikaat om Bizos te vervolg, het die NVG in ’n handomkeerbeslissing aangekondig dat hulle Bizos wel gaan vervolg. Bizos is daarna uitgenooi om vertoë aan die NVG te rig voordat die vervolging ingestel sou word. Ná ontvangs van Bizos se vertoë het die NVG weer eens besluit om nie te vervolg nie. Van Oosterhout het daarna weer aansoek gedoen om ’n sertifikaat om Bizos privaat te vervolg.

“Dit is duidelik dat die NVG bloot besig is om lippediens te doen met betrekking tot sake van geweld teen vroue en kinders. Bizos word skynbaar nie vervolg word nie weens sy pa se politieke verbintenisse, en dít is onaanvaarbaar,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Volgens Leask is dit vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid belangrik om by sake soos hierdie betrokke te raak. Eerstens omdat die NVG nie selektief kan wees met die vervolging van verdagtes nie en tweedens omdat die regstelsel hierdie slagoffer telkemale gefaal het.

“Niemand is verhewe bo die reg nie en dit is waarom AfriForum se privaatvervolgingseenheid aanhou om hierdie saak te dryf en Bizos namens Van Oosterhout te vervolg. Die NVG se aanduidings dat hulle fokus op sake van geweld teen vroue en kinders blyk nie te geld in alle gevalle nie. Ons wil verseker dat sekere persone nie as verhewe bo die reg beskou word nie en beskou geweld teen vroue in ’n ernstige lig,” sê Leask.

Soortgelyke plasings