|

Verkiesing skop in sommige provinsies stadig af – AfriForum tree as waarnemers op

 

 

Die munisipale verkiesing het vanoggend stadig afgeskop met verskeie stempunte in Gauteng, Limpopo, Noordwes en die Oos-Kaap wat laat geopen het.

Marcus Pawson, hoof van plaaslike regeringsake by AfriForum, het gesê aanduidings is dat die meeste stempunte in die Noord-Kaap en Oos-Kaap wel betyds geopen het.

Volgens Pawson het AfriForum-waarnemers en lede van die publiek wat die AfriForum Verkiesingstoep gebruik reeds vroegdag waardevolle inligting begin deurgee.

Van die belangrikste onreëlmatighede wat aangemeld is, is stembriefhouers wat nie aan waarnemers vertoon is alvorens dit geseël is nie. Dit is dus onduidelik of daar reeds stembriewe in van die houers was. Voorts was daar klagtes dat sommige politieke partye aktief werwing gedoen het binne die afgebakende grense van die stempunte. Dit is ’n oortreding van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se reëls.

Ander klagtes wat ontvang is, is vroue met naellak en gel-naels wat weggewys is en stadige prosesse by van die stempunte weens ’n tekort aan skandeerders. Daar was ook ’n voorval van ’n inwoner van Boksburg wat vroeër daar geregistreer het, wat weggewys is en ingelig is dat hy in Happy Valley in die Kaap moet gaan stem.

AfriForum het vandag meer as 100 waarnemers landwyd wat help toesien dat die verkiesing vry en regverdig verloop.

Pawson het gesê AfriForum staan buite die partypolitiek, maar as  ʼn burgerlike instelling met ʼn waghondfunksie moet hy kyk dat die burgerlike regte van sy lede en die breë publiek bevorder word.

“Dit is vir AfriForum belangrik dat die verkiesing vry, veilig en regverdig sal geskied. Vanjaar se verkiesing gaan die regerende party se moeilikste wees en die OVK se vermoë gaan getoets word om ʼn deursigtige verkiesing te verseker,” meen Pawson.

Teen middagete was dit steeds betreklik stil by die OVK se kiessentrum in Pretoria. Verteenwoordigers van die verskillende politieke partye het drupsgewys begin opdaag.

Een van die eerste bekendes wat haar opwagting gemaak het, was Jessie Duarte, adjunk sekretaris-generaal van die ANC.

Die SABC het ’n massiewe binnenshuise ateljee in die kiessentrum vanwaar die verloop van sake regstreeks uitgesaai word.

Politieke ontleders het die afgelope weke verskeie voorspellings rondom die verkiesing gewaag. Sommige daarvan was dat die ANC sy meerderheidsteun in van die groot metro’s kan verloor. Die prentjie het intussen verander en in die jongste meningspeiling deur Ipsos is aangedui dat ’n naelbytstryd op die DA en ANC wag met dié partye wat in ’n kop-aan-kop-stryd in Tshwane gewikkel is.  Die ANC het 47% steun teenoor die DA se 43%. In Johannesburg is die ANC se steun op 46% steun teenoor die DA se 41% geraam.

Nasionaal het die ANC se steun op 54% gestaan, die DA s’n op 26% en die EFF op 8%.

Terwyl dit heeltemal te vroeg is om ’n volledige prentjie van die verkiesing te gee, is die groot vraag of die partye se skouspel van reuse-byeenkomste, omstrede uitlatings, plakkate en baniere die afgelope weke die kiesers vandag gaan beïnvloed.

Verkiesingskoors het hoogty gevier met die land se grootste politieke partye wat uit hul pad gegaan het om vir oulaas stemme te werf.

Van die partye het vernuftig truuks ingespan om hul steun uit te bou of te probeer behou. Gratis kospakkies, vliegtuie met baniere, dansers, busse én motorfietse is maar enkele elemente wat ingespan is om meer lewe in saamtrekke vroeër te blaas in ’n poging om die 26,3 miljoen stemgeregtigdes sover te kry om wel by die stembus op te daag.

AfriForum sal na afloop van die verkiesing ’n volledige verslag oor die verkiesing vrystel. Intussen kan lede enige voorvalle van ongerymdhede e-pos na verkiesings@afriforum.co.za

 

Soortgelyke plasings