|

Verkrag, verbrand, doodgeskiet… Hoe baklei ons terug?

Deur Ian Cameron

Verlede week is ’n 17-jarige tiener naby Fochville verkrag en ernstig beseer. ’n Man is met ’n strykyster gebrand, en die week voor dit is Liezel Wessels met kookwater gebrand en met ’n mes gesteek kort voordat haar man, Tool Wessels, vermoor is.

Vandeesweek het Suid-Afrika verder gesteier onder die nuus van twee jongmense, Johanco Fleischman en Jessica Kuhn wat Sondagoggend langs die N12 naby die Putfontein-afrit in Benoni doodgeskiet is. Vermoedelik deur “oppassers” van onwettige mynwerkers (zama-zama’s) wat gedink het hulle wil skelm goudstof koop. In werklikheid was hulle doodonskuldige slagoffers van die misdaadkrisis in die land nadat hulle sonder brandstof gaan staan het.

Die skoknuus oor die twee jongmense se dood volg ook kort ná die nuus van Annette Kennealy (50), ’n kampvegter teen plaasmoorde, wat wreed op haar hoewe buite Louis Trichardt vermoor is.

Daar was tot op hede vanjaar reeds 179 aanvalle en 20 plaasmoorde. Hoewel die probleem nie oornag opgelos kan word nie, is daar enkele stappe wat gevolg kan word om weerbaarheid te verbeter:

  • Ons moet gemeenskappe binne die raamwerk van die wet in strukture organiseer;
  • Ons moet wetstoepassingsowerhede se oë en ore wees;
  • Ons moet gemeenskappe van regsopleiding voorsien en hulle sodoende bemagtig om te alle tye regmatig tydens veiligheidsinisiatiewe op te tree;
  • Ons moet proaktief optree; en
  • Ons moet te alle tye die morele hoë grond behou.

Om slegs vir privaatsekuriteit of die polisie te wag om in te gryp, gaan nie die vlaag aanvalle wat tans ervaar word stopsit nie. Die antwoord lê lankal nie meer elders nie. Die gebrek aan grondvlak-organisering in sekere gebiede veroorsaak dat privaatsekuriteit en die polisie die dekmantel vir oneffektiewe oplossings word.

Om self te organiseer, is die bepalende faktor vir gemeenskapsweerbaarheid en om dit onder die bevel van die staat te doen kan eenvoudig nie die antwoord wees nie, wel, beslis nie in Suid-Afrika nie.

AfriForum se nasionale voetspoor het ’n onstuitbare netwerk van gemeenskapstrukture geword en die organisasie se nasionale kommunikasiestelsel is enig in sy soort, wat tans beteken dat duisende gemeenskapslede in die land met mekaar kan kommunikeer om gemeenskapsweerbaarheid te verseker.

AfriForum het die afgelope naweek derduisende mense teen misdaad gemobiliseer tydens die organisasie se jaarlikse nasionale patrollie. Sowat 135 AfriForum buurt- en plaaswagte, meer as 125 polisiestasies, talle gemeenskapspolisieringsforums, sekuriteitsmaatskappye en ander liggame het aan dié massa-misdaadsvoorkomingsaksie deelgeneem.

Mense moet verstaan dat so ʼn inisiatief nie die enigste antwoord is nie, maar wel ‘n goeie geleentheid om samehorigheid en samewerking onder gemeenskappe teen misdaad en vir weerbaarheid te bewerkstellig.

Die polisie kan nie alleen die geveg teen misdaad wen nie. Die gemeenskap en privaat sektor speel ’n kernrol om veiligheid te bevorder. Bestaande wetgewing maak voorsiening vir gemeenskappe om misdaad binne die raamwerk van die wet te help beveg.

Soortgelyke plasings