|

VERKRAGTINGSLAGOFFER GETUIG IN HOF

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag sy vervolging van ’n vermeende verkragter in die Streekhof in Somerset-Oos voortgesit.  

Die privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv.Gerrie Nel, verteenwoordig die slagoffer Celeste Gouws. Gouws is in 2017 in haar eie huis verkrag ná sy vermoedelik bedwelm is. Die direkteur van Openbare Vervolgings in die Oos-Kaap het aanvanklik geweier om die verdagte, Isaac Andile Memese, te vervolg, ten spyte van oorweldigende bewyse teen hom. AfriForum is van mening dat  die hantering van die saak tot op hede op politieke inmenging dui, aangesien Memese en sy familie politieke bande het.  

Gouws het vandag oor die gebeure op die aand van die voorval getuig. Adv. Nel het ook kringtelevisiebeeldmateriaal in die hof gewys, wat duidelik wys hoe Memese herhaaldelik by Gouws aanlê, aan haar raak en haar probeer soen. Sy het dié toenaderings keer op keer geweier. Gouws het getuig dat Memese herhaaldelik aangedring het dat sy saam met hom moet bad. Die beeldmateriaal wys ook hoe Memese in ’n stadium sy eie glas met Gouws s’n ruil, waarna sy binne minute onstabiel begin raak. Memese drink daarna nie weer self uit dié glas nie. 

Gouws moes uiteindelik ’n vriend kontak om haar te kom geselskap hou by die gastehuis wat sy bedryf het, omdat Memese nie sy onvanpaste gedrag wou staak nie. Nadat die vriend Memese uitgesien het, wys die beeldmateriaal hoe die beskuldigde minute later weer die huis binneglip en Gouws uiteindelik na haar slaapkamer dwing. 

“Dit is uiters teleurstellend dat die NGV geweier het om hierdie saak te vervolg, ten spyte van die duidelike bewyse teen die beskuldigde. Hooggeplaaste politici en regeringslui maak heeldag en aldag uitsprake oor geslagsgebaseerde geweld, maar hierdie saak maak dit weereens duidelik dat die owerheid willoos is om daadwerklik teen hierdie oortreders op te tree, veral as hulle politieke bande het,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder. 

Die saak duur Donderdag 15 Julie voort. 

Soortgelyke plasings