|

Verlenging van inperking: die regering is die probleem, nie die oplossing nie

AfriForum het in reaksie op die verslapping van die inperking gesê gemeenskappe moet besef dat dit roekeloos is om nog steeds van die regering te verwag om verantwoordelik op te tree en na hulle belange om te sien. Die burgerregteorganisasie meen dat die regering nie vir die ophef van die rook- en drankverbod, asook die ophef van die verbod op interprovinsale reise geprys moet word nie, omdat die verbod daarop van meet af aan irrasioneel was.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat korrupsie, en veral die diefstal van geld wat vir verligting vanweë die COVID-19-pandemie geoormerk is, nie hanteer is nie.

“Om nou vir die President dankie te sê dat die inperkingsmaatreëls verslap word, is soos vir ’n gevangene om sy ontvoerder te bedank wanneer hy vrygelaat word. Ons ly nie aan Stockholm-sindroom nie,” sê Roets.

Die President was deur van die land en die wêreld se grootste kenners geadviseer om anders op te tree, maar hy het geswig onder die druk van sy korrupte kamerade en hy kon nie die versoeking weerstaan om op irrasionele wyse aan mag vas te kleef nie.

In die komende weke gaan AfriForum ’n plan publiseer met praktiese stappe wat deur die regering gedoen kan word om die privaat sektor te bemagtig om die skade wat deur die staat van inperking berokken is, te herstel. Die organisasie werk ook reeds aan ’n omvattende strategie vir selfbestuur wat daarop neerkom dat minderhede vir hul eie toekoms verantwoordelikheid neem en praktiese stappe doen om groter beheer oor hul eie sake te verkry.

Soortgelyke plasings