Vervolging van Duduzane Zuma bewys AfriForum se vervolgingstrategie werk


AfriForum verwelkom die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om Duduzane Zuma, seun van voormalige president Jacob Zuma, op ’n strafregtelike klag van strafbare manslag te vervolg. Die burgerregte-organisasie sê verder dié besluit is ’n duidelike bewys dat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, se strategie om te verseker dat niemand bo die reg verhewe is nie, besig is om vrugte te dra.
Die NVG het aanvanklik besluit om nie vir Zuma jr. in verband met ’n motorongeluk op 1 Februarie 2014 op die M1-snelweg in Gauteng – waarin ’n jong, vroulike passasier, Mekelina Dube, opslag dood is – te vervolg nie. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dié besluit omgekeer weens AfriForum se bereidwilligheid om privaat vervolging in te stel.

“Dit bly eerstens die NVG se plig om oortreders te vervolg en wanneer die moontlikheid van privaat vervolging die NVG dwing om sy werk te doen, beskou AfriForum dit as ’n oorwinning,” voeg Kriel by.

Die besluit om Zuma jr. wel te vervolg is volgens Kriel ook ’n oorwinning vir die Dube-familie, wat nou uiteindelik na meer as vier jaar sal kan sien dat geregtigheid geskied. Kriel het die Dube-familie geloof vir hul bereidwilligheid om aan te dring dat vervolging plaasvind en het aangedui dat AfriForum sal voortgaan om die familie in dié saak by te staan.
Kriel sê verder dat die NVG se besluit om vervolging teen voormalige president Jacob Zuma en die Guptas in te stel, met die wete dat privaat vervolging sou geskied as hulle dit nié doen nie, ook ’n sterk boodskap uitstuur dat niemand vervolging bloot op grond van sy/haar politieke verbintenisse of posisie mag vryspring nie.
AfriForum hoop volgens Kriel dat die NVG ook uiteindelik onder hierdie druk sal besluit om Julius Malema en adv. Nomgcobo Jiba te vervolg.

“AfriForum staan egter gereed om hierdie persone privaat te vervolg sou die NVG steeds versuim om vervolging in te stel.”

Kriel dui, met betrekking tot die aanrandingsklag teen Grace Mugabe, aan dat AfriForum se saak om haar diplomatieke immuniteit ter syde te stel op 10 en 11 Mei in die Noord-Gautengse hoë hof aangehoor sal word.

Soortgelyke plasings