|

Viljoenskroon-tak verkla Moqhaka-munisipaliteit by Menseregtekommissie oor riool

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het op 11 Julie die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit by die Menseregtekommissie (MRK) aangekla oor die haglike toestand in hierdie dorp. Die riool wat oral in Viljoenskroon vloei, is al vir ongeveer sewe jaar ’n probleem en die munisipaliteit versuim om op AfriForum se skrywes daaroor te reageer.

Die situasie vererger daagliks en die munisipaliteit het skynbaar geen wil om dit op te los nie. Die plaaslike rioolwerke is nie op standaard nie, dus kom baie riool nie eers by die rioolwerke uit nie. Dit het tot gevolg dat Viljoenskroon, Rammulotsi, die Vleiland en omliggende plase en kleinhoewes dikwels met riool oorspoel word. Dit is so erg dat daar op baie plekke riooldamme gevorm het.

’n Groot oorsaak van die probleem is dat die rioolstelsel vir 7 000 inwoners ontwerp en gebou is en dat dit tans deur meer as 111 000 inwoners gebruik moet word. ’n Verdere probleem is dat die eienaars van diere wat vry rondloop waarskynlik die rioolnetwerk beskadig om water vir hulle vee te kry. Die netwerk is nie beveilig nie en daar is ook nie voldoende sekuriteit nie.

Daar is dikwels onbevoegde kontrakteurs aangestel wat die probleem vererger het in plaas daarvan om dit op te los. Aangesien die storting van riool onwettig is, veral in ’n plek wat water voorsien, soos die Vaalrivier, het die AfriForum-tak die munisipaliteit se lisensies vir die bedryf van die rioolwerke aangevra. Hulle is gemaan om die werke op standaard te bring en dringend iets te doen aan die rioolstortings oral. Hulle is tot 17 Junie gegee om met ’n plan vorendag te kom, maar het die skrywe van AfriForum geїgnoreer.

“Die munisipaliteit ignoreer die probleem, daarom het AfriForum hom nou na die MRK gewend. Hierdie situasie kan nie langer geduld word nie, want mense en diere en die natuur ly nou onder die munisipaliteit se apatiese houding teenoor hierdie ernstige probleem,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak: SMS “Viljoenskroon” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings