|

Vir vreedsame voortbestaan moet Afrikaners brugbouers wees

Die demografiese werklikheid in die land is dat Afrikaners yl versprei oor groot gebiede is en tussen ander kultuurgroepe bly.

Vir vreedsame naasbestaan is dit noodsaaklik dat die verskillende kultuurgroepe wedersyds begrip en respek vir mekaar moet hê. Om dié rede is AfriForum aktief betrokke by gesamentlike projekte met ander gemeenskappe waar die fokus op gedeelde sake en nie verskille tussen mekaar is nie, sê Barend Uys, hoof van navorsing by die organisasie.

“Ons kan baie leer by ons voorouers wat ook geweet het dat om te oorleef in die land goeie verhoudinge met ander kultuurgemeenskappe gehandhaaf moet word.”

Uys sê omdat Afrikaners respek vir hulself het, kan hulle ook die regte van ander gemeenskappe erken en respekteer. As ons vir moedertaalonderrig en die beskerming van eiendomsreg vra, moet ons dit ook vir ander gemeenskappe vra.

Volgens Uys reik baie ander gemeenskappe reeds uit na AfriForum omdat hulle weet ons is Afrikaners en dat ons suksesvol is. “Ons moet ander gemeenskappe help om hulself te help. In ons verhouding met ander gemeenskappe is daar nie plek vir paternalisme of om nuwe afhanklikheid te skep nie.”

Hy meen vir ’n beter toekoms is dit ook baie noodsaaklik dat die geskiedenis genormaliseer moet word. “Die meesterverhaal wat voorgehou word dat wit mense skurke en swart mense slagoffers is, moet gebreek word.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het verduidelik hoe die eenheid se werksaamhede inmekaar steek om die doel van geregtigheid en gelykheid voor die reg te bevorder.

“Die strafregstelsel het verval en ons het ’n onbevoegde polities gemotiveerde regbank. Daarom het dit nodig geword om ’n alternatiewe vervolgingsgesag te skep.”

Hy het verwys na die talle sake waarby die eenheid betrokke is wat onder meer daarop gemik is om mense teen magsmisbruik te beskerm. Die eenheid is onder meer tans besig met sake teen hoë profiel persone asook sake van verkragting en kindermishandeling wat daarop gemik is om die regte van vroue en kinders te beskerm.

Die privaatvervolgingseenheid was in 2017 by 488 sake betrokke. In 2018 was dit 547 en in 2020 altesaam 1 289. “Al hoe meer mense het beskerming nodig weens die verval van die regstelsel en die eenheid kry al hoe meer navrae van mense wat ons hulp nodig het. Ons het baie uitdagings, maar ons sal voortgaan met vervolging omdat selektiewe vervolging nie geduld kan word nie.”

Corné Cronje, bestuurder van gemeenskapsake by AfriForum, het die organisasie se ankergemeenskapstrategie verduidelik wat daarop fokus om ankerdorpe sterk te maak gegewe die vinnige agteruitgang en verval in die land. Gemeenskappe word bygestaan met volhoubare bestuursmodelle soos die Pionier-dienstemaatskappy wat gestig is om munisipale dienste van uitmuntende gehalte te lewer daar waar munisipaliteite in gebreke bly om dit te doen.

Dit is ’n selfbestuurmodel om byvoorbeeld water- en rioolnetwerke weer funksioneel te kry en te hou. Op die oomblik word gekyk na modelle hoe die geld wat aan die opknapping van infrastruktuur bestee word weer van die staat verhaal kan word. Tans gebruik AfriForum litigasie om munisipaliteite te dwing om te betaal vir die werk wat hulle nie gedoen het nie en in ander gevalle word ooreenkomste met munisipaliteite gesluit wat ooreenkom om te betaal waar AfriForum kundiges aanstel om die werk te doen.

Soortgelyke plasings