|

Virseker Trust skenk R1 miljoen vir Solidariteit Beweging se noodfonds

Die Virseker Trust het aangekondig dat hy R1 miljoen aan die Solidariteit Beweging se Noodfonds gaan skenk. Die fonds se doel is om hoofsaaklik kinders en bejaardes met noodvoeding te help en om deur die Beweging se Skoleondersteuningsentrum (SOS) te sorg dat leerders op Wolkskool, die SOS se e-leerstelsel, voortgesette onderrig tydens die Covid-19-krisis te kry.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die skenking verwelkom. “Ons is baie bekommerd oor die maatskaplike krisis wat as gevolg van die koronakrisis gaan ontstaan. Dit is veral ouer mense en kinders wat dikwels die swaarste getref word. Talle mense se inkomste is oornag verminder. Ons doen ʼn beroep op groot en kleiner sakeondernemings om te help en vir dié ondernemings wat reeds help, soos die Virseker Trust, sê ons baie dankie,” het Buys gesê.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, volg ‘n maatskaplike krisis op ‘n ekonomiese krisis. Die Helpende Hand het met sy Kosblikkieprojek reeds voor die Covid-19-krisis 8 000 kleuters per dag met noodvoeding gehelp. Hierdie getal neem nou daagliks toe, en die Solidariteit Helpende Hand word oorval met versoeke vir hulp vir kwesbare groepe. Net in Maart het ons reeds R753 739 aan noodprojekte bestee, en daarom is die versterking van die noodfonds noodsaaklik.

Solidariteit Helpende Hand het landswyd skenkingspunte, Josef Silos, vir niebederfbare kos, bepaal. Duisende mense en spesifiek kinders wat voorheen hulp uit Solidariteit Helpende Hand se voedingsprojek gekry het, sal hierby baat. Hierdie hulp word deur die Helpende Hand se landswye netwerk van kantore en takke verleen.

Die helfte van die Virseker Trust se skenking gaan vir maatskaplike hulp en spesifiek die Josef Silos gaan. Die ander helfte gaan vir die verdere ontwikkeling van Wolkskool om sorg toe te sien dat kinders nie met hul skoolwerk agter raak nie. Altesaam 53 000 leerlinge het reeds vir Wolkskool in die Covid-19-krisistyd geregistreer.

Die Solidariteit Beweging gaan op 7 April ʼn reuse-Helpmekaardag hou ten bate van die Solidariteit Beweging se noodfonds.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die gemeenskap uitgedaag om minstens vir elke rand wat Virseker gee ook ʼn rand te gee. “Ons mag nie toelaat dat ons kwesbare groepe en kinders tydens die krisis swaarkry nie. Ons moet die honger na kos en hulp en die honger na kennis stil,” het Hermann gesê.

Op die Helpmekaardag gaan daar ook ʼn beroep op die gemeenskap gedoen word om klein- en mediumsakeondernmings te help. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, lê die beste hulp aan sakeondernemings in die koopkrag van verbruikers. Duisende sakeondernemings het reeds by AfriForum se sakenetwerk by afriforumnetwerk.co.za geregistreer. Ondernemings word aangemoedig om by die netwerk te registreer sodat mense aangemoedig kan word om by hulle te koop.

Skenkings kan by www.helpendehand.co.za, www.afriforum.co.za, of by www.krisisfonds.co.za gemaak word.

Die Solidariteit Beweging se noodfonds word deur Solidariteit Helpende Hand se ouditeure geoudit en ‘n spesiale oorsigkomitee sal sorg dra dat die geld reg aangewend word.

Soortgelyke plasings