|

Vonnisoplegging van Malinga volg na verwagting in Januarie

Verskeie getuies het gister ter strafverswaring by die vonnisverrigtinge van Khumbulani Malinga getuig. Dié verrigtinge sal op 10 Januarie 2022 hervat waarna landdros Andreas Masteroudes na verwagting vir Malinga sal vonnis. Malinga is in Oktober in die streekhof in Middelburg skuldig bevind op ’n klag van strafbare manslag. Malinga het skuldig gepleit op hierdie klagte nadat hy in Maart 2019 vir Lizel Visagie doodgery het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak op.

Visagie het tydens die voorval haar dogter (wat toe minderjarig was) uit die pad van Malinga se motor gestamp terwyl hy besig was om vir die verkeerspolisie te vlug. Malinga het Visagie se been afgery en sy is onderweg na die hospitaal oorlede.

Die verkeersbeampte van wie Malinga tydens die voorval weggejaag het, het gister getuig oor die grusaamheid van die toneel, asook die feit dat Malinga oor vier rooi verkeersligte gejaag het nadat die beampte hom afgetrek het. Verder het die moeder van Visagie, Marie Hamman, getuig oor die onomkeerbare impak wat die verlies van haar dogter op haar en haar familie se lewens gehad het aangesien haar dogter haar finansieel ondersteun het en vanweë die feit dat haar kleindogter moes emigreer ná haar ma se dood om by haar pa te gaan woon. Malinga het self ook getuig en redes geopper ter strafversagting.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid is van mening dat die vonnisverrigtinge tot op hede goed verloop het en dat geregtigheid ook ten opsigte van die vonnisoplegging sal geskied. Ons verwelkom die uiteindelike besluit van die Nasionale Vervolgingsgesag om die beskuldigde wel te vervolg om te verseker dat hy nou gevonnis kan word vir die gruweldaad wat hy gepleeg het,” sê Wico Swanepoel, prokureur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings