Voorgestelde staatsregulering van sosiale media is bloot staatsinmenging


AfriForum het vandag gesê dat staatsregulering van sosiale media soos voorgestel deur David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, daartoe gaan lei dat “valse narratiewe” eerder bevorder as beperk sal word. AfriForum het ook aangekondig dat sou die minister hiermee voortgaan, die burgerregte organisasie dit sal teenstaan.
Mahlobo het gisteroggend gesê dat die regering dit oorweeg om sosiale media te reguleer omdat daar volgens hom te veel “posmanne en -vroue” is wat inligting oordra wat nie getoets is nie.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die regerende ANC daarvoor berug is dat hulle dikwels oneerlik met die publiek is, veral wanneer korrupsie en staatsverval ter sprake is.

“Dit is veral ironies dat ’n minister wat baie onlangs op sosiale media uitgevang is oor sy eie beweerde korrupte bedrywighede nou skielik sosiale media wil reguleer,” sê Roets verder.

Foto’s het onlangs op sosiale media verskyn waar Mahlobo saam met ’n werknemer van die masseersalon wat aan die selferkende misdadiger Guan Jian Guang behoort, poseer. Die foto’s is skynbaar verlede jaar geneem.
Roets voeg by dat hierdie uitspraak getuig van die ideologie van totalitarisme wat besig is om in die ANC pos te vat.

“Die minister is besorg oor die verspreiding van fopnuus. Ons is besorg oor die verspreiding van ’n fopideologie,” sluit Roets af.

Soortgelyke plasings