|

VOORGESTELDE WYSIGINGS AAN POLISIEWET KAN CELE TE VEEL MAG GEE

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum het kommentaar ingedien teen die voorgestelde wysigings aan die Polisiewet wat in sommige kringe as ’n poging tot magsvergrype neerkom.

Die wysigings is op 1 Oktober in die Staatskoerant afgekondig. Die doel daarvan is klaarblyklik om argaïese dele van die wet aan te spreek, dit te verbeter en met die Grondwet te belyn.

Volgens Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid, is die wysigings ’n lywiger dokument as die wet self. Hy meen daar is hoofsaaklik vier wysigings wat probleme kan veroorsaak en selfs op verskeie grondwetlike regte inbraak kan maak.

“Een van die wysigings verwys daarna dat iemand wat wetend vals inligting versprei hof toe gesleep kan word,” sê hy. “Die probleem is dat iemand dalk te bang sal wees om inligting wat werklik met ’n misdaad verband hou te versprei as hy weet dat hy dalk in die hof kan beland. Dit kan ’n groot effek op doeltreffende polisiëring hê as minder inligting oor moontlik misdade versprei word.”

’n Tweede stipulasie wat Kamfer pla, is dat die minister van polisie ’n gedragskode kan neerlê waaraan buurtwagte moet voldoen. Daar is nog nie vasgestelde riglyne in plek nie, maar die minister sal in tyd reëls in plek kan stel.

“Oor die algemeen is daar tans baie goeie samewerking tussen buurtwagte en plaaslike polisiekantore,” sê Kamfer. “Dit kan egter gebeur dat mense ontmoedig word om in die eerste plek by buurtwagte in te skakel.”

AfriForum het tans landwyd 160 buurtwagte.

Kamfer sê die ander twee besware het te make met die polisie se magte. Eerstens sal hulle nie meer mag skiet om net eiendom te beskerm nie. Waar iemand se lewe in gevaar is, sal hulle wel nog mag skiet. ’n Uitdaging wat Kamfer voorsien, is daar waar eiendom bedreig word en dit nie duidelik is of iemand se lewe dalk ook in gedrang is nie. Hy noem die voorbeeld waar iemand dreig om ’n petrolbom in ’n gebou in te gooi en dit onseker is of daar dalk iemand in die gebou is.

Die polisie se gebruik van outomatiese gewere by protesoptogte sal ook ingevolge wysigings aan die Polisiewet beperk word.

“Outomatiese gewere is op hul eie reeds ’n afskrikmiddel vir moeilikheidmakers,” sê Kamfer. “As die polisie se gebruik van outomatiese gewere beperk word, kan dit ook lei tot gevalle waar misdadigers beter as die polisie bewapen is. Om die minste te sê lyk hierdie wysigings ondeurdag.”

Okkie Terblanche, die DA se woordvoerder oor polisie, meen dis ’n goeie ding dat die Polisiewet en die Grondwet beter met mekaar belyn word en dat deeglike ondersoek na ’n persoon se agtergrond gedoen word alvorens hy ’n lid van die polisie kan word. Iemand wat aan ’n misdaad skuldig bevind word, sal voortaan nie ’n polisielid kan word nie.

Volgens Terblanche is daar aspekte van die wysigings wat te ver gaan.

“Op sekere gebiede bots die wysigings met die Grondwet,” sê hy. “Baie van die wysigings plaas ook te veel mag in Bheki Cele, minister van polisie, se hande. Uiteindelik wil ons net die beste moontlike weergawe van die polisie sien.”

Dr. Johan Burger van die Insituut vir Sekerheidstudies sê dis hoog tyd dat die Polisiewet in pas met die Grondwet gebring word.

“Die huidige wet is ouer as die Grondwet,” sê hy. “Van die positiefste voorgestelde wysigings sluit in ‘n opgeleide span om dissiplinêre verhore te hanteer en duideliker riglyne oor gemeenskappolisiëringsforums. ‘n Bekommernis is dat daar nie in die wetgewing kriteria uiteengesit is vir die aanstelling vir persone in van die top poste in die polisie nie.”

Die publiek word aangemoedig om kommentaar op die wysigings te lewer.

Die wysigings behoort nie ’n noemenswaardige verskil aan privaatsekuriteitsondernemings te maak nie. AfriForum is reeds besig om regsadvies in te win en verdere stappe te oorweeg indien daar nie op die ingediende kommentaar ag geslaan word nie.

Belanghebbendes en diegene wat kommentaar teen die voorgestelde wysigings wil indien, moet dit teen 27 November 2020 doen. Dit kan gestuur word na comments.bill@csp.gov.za.

Soortgelyke plasings