|

Vrouedag herinner opnuut aan regering se lippediens in geveg teen geslagsgebaseerde geweld

Op die vooraand van Vrouedag is ’n onlangse sukses deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid nog ’n herinnering aan die lippediens wat die strafregstelsel doen aan sake waarby vroue betrokke is, asook die geveg teen geslagsgebaseerde geweld. Die eenheid is daartoe verbind om vroue te help wat, wanneer hulle die strafregstelsel moet navigeer, dikwels aan hul eie lot oorgelaat word sonder ondersteuning van ondersoekbeamptes en aanklaers.

Die eenheid is verlede week ingelig dat die stiefpa van twee vroue, wat hy na bewering oor ’n lang tydperk verkrag en seksueel aangerand het, in hegtenis geneem is. Die vrou van Lichtenburg het die sake in Oktober 2020 geopen, maar het die eenheid genader omdat sy bekommerd was oor die gebrek aan vordering in die ondersoek. Ná byna twee jaar, is die enigste bewysstuk wat gekort het in die saak, ’n waarskuwingsverklaring van die verdagte. Ná ’n brief aan die speurhoof in Lichtenburg is die verdagte in hegtenis geneem.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal die saak fyn dophou om te verseker dat geregtigheid geskied.

Dit is maar een ontwikkeling in die talle sake waarby vroue betrokke is wat die eenheid aangepak het. Hierdie sake sluit in:

  • Adv. Mpho Rasivhetshele
    Adv. Rasivhetshele is na bewering by ’n sosiale byeenkoms deur ’n senior lid van regsberoep aangerand. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik geweier om te vervolg, maar het hierdie besluit hersien na vertoë van die privaatvervolgingseenheid. Die beskuldigde staan op 25 Augustus 2022 in die Johannesburgse landdroshof tereg. 

  • Celeste Gouws
    Gouws is na bewering in 2017 deur Isaac Andile Memese verkrag. Die NVG het geweier om te vervolg ondanks die feit dat daar genoeg videobewyse was van die interaksie tussen die twee in die ure wat tot die beweerde oortreding gelei het. Die saak word privaat vervolg deur eenheidshoof, adv. Gerrie Nel. Memese het ’n aansoek gebring om die saak te laat skrap, maar dit is twee weke gelede van die hand gewys. Die verhoor hervat in Desember.

  • Duduzile Zuma
    Zuma, ’n toegewyde Johannesburgse brandweervrou met meer as twee dekades ervaring, is in 2018 deur kollega Malfas Tshota aangerand terwyl hy aan diens was. Die NVG het aanvanklik besluit om nie te vervolg nie, tot die privaatvervolgingseenheid toegetree het. Tshota is verlede maand aan aanranding skuldig bevind en ’n boete van R3 000 opgelê. Ten spyte hiervan bly hy aan diens en het hy nog nooit interne dissiplinêre prosesse vir sy optrede in die gesig gestaar nie. Die privaatvervolgingseenheid het aan die Johannesburgse Munisipaliteit geskryf om ’n verduideliking vir die gebrek aan optrede te eis.

  • Milena Hill
    Hill is na bewering aangerand deur John Schuurman, wat ook onder die naam Johnny Rockett gaan. Sy het die privaatvervolgingseenheid genader uit kommer dat haar saak nie sou voortgaan nie weens Schuurman se beweerde kontak met die polisie. Sedert die privaatvervolgingseenheid se betrokkenheid het verskeie ander vroue na vore gekom om beweerde aanrandings aan die hand van Schuurman te beskryf. Die eenheid sal al die klaers bystaan om geregtigheid te laat geskied.

Die ervarings van AfriForum se privaatvervolgingseenheid dui daarop dat vroue nie vir die regering belangrik is nie; die NVG fokus eerder op politieke puntetelling, terwyl beide die NVG en die SAPD gemotiveer word deur statistiek na te jaag. Dit is die privaatvervolgingseenheid se mening dat daar ook ’n duidelike gebrek aan kundigheid binne die strafregstelsel is om aangeleenthede van geslagsgebaseerde geweld te hanteer, wat dikwels moeilik is om te vervolg.

Die privaatvervolgingseenheid het die volgende advies aan vroue wat slagoffers van geslagsgebaseerde geweld is:

  • Jy is geregtig om ’n saak te open. Daar is geen tydsbeperkings verbonde aan wanneer jy ’n saak kan oopmaak nie.
  •  Klaers is geregtig op terugvoer en dit moet geëis word as jy nie terugvoer oor die ontwikkeling van die saak van die polisie of die NVG kry nie.
  • Jy het ’n saakdossier in jou hande – jou foon. Neem foto’s, teken interaksies en gesprekke op en versamel bewyse. As jy bewyse het, e-pos dit aan vriende en familie om te verseker dat in die geval dat die toestel beskadig, verloor of gesteel word, die bewyse steeds toeganklik is.
  • Wees op die uitkyk vir en help vriende en ander vroue in gewelddadige verhoudings. Dikwels is dit vriende of ander vroue wat klaers na die privaatvervolgingseenheid verwys.

Soortgelyke plasings