Vryheid: AfriForum vra Openbare Beskermer om departement oor padonderhoud te ondersoek


AfriForum het in ’n skrywe versoek dat die Openbare Beskermer (OB) die kantore van die departement van vervoer in Vryheid ondersoek. Dié stap was noodsaaklik omdat die departement min tot geen instandhoudingswerk aan sy infrastruktuur­bates in sy area van jurisdiksie doen en ook nie op AfriForum se klagtes reageer nie.
AfriForum vra dat die OB die kwalifikasies van bestuurslede by die departement van vervoer in Vryheid ondersoek, asook die finansiële stand van sake, die kontrakte wat toegeken is en of die kontrakteurs aan die minimumkwalifikasies voldoen het om dié konstruksiewerk te kan doen.
Slaggate word slegs met gruis gevul nadat ’n ongeluk reeds plaasgevind het en motoriste het selfs al met hul lewens geboet omdat slaggate nie gevul word nie. Padtekens en waarskuwingsborde word ook glad nie onderhou nie.

“Die plaaslike departement het ’n vloot splinternuwe voertuie, maar geen van hierdie voertuie of personeel word ooit op die paaie gesien om onderhoud aan die teerpad of padtekens en veiligheidsreëlings te doen nie. Wat word met die begroting wat aan die streek geallokeer word, gedoen?” vra Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum sal die situasie fyn dophou om seker te maak daar is nie enige vorm van korrupsie nie.
Ondersteun AfriForum om jou gemeenskap te help: SMS jou naam na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings