|

VRYHEID-GEMEENSKAP VAT HANDE OM DORP TEEN PLUNDERY TE BESKERM

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Nagenoeg 400 mense het vandeesweek by die AfriForum-gemeenskapsentrum in Vryheid, KwaZulu-Natal (KZN), bymekaargekom om planne te beraam en hulself te organiseer te midde van grootskaalse onluste wat dele van die land die afgelope week teister.

Dié onluste het ontstaan kort nadat oudpres. Jacob Zuma sy tronkstraf van vyftien maande vir minagting van die hof in die gevangenis in Estcourt begin uitdien het. Sedert die onluste begin het, is meer as 100 mense in KZN en Gauteng dood en meer as 1 000 plunderaars in hegtenis geneem.

Daar word ook vermoed dat voormalige operateurs van Umkhonto we Sizwe (MK), die militêre vleuel van die ANC, vir die geweld verantwoordelik is. Luidens mediaberigte is 12 vermeende aanhitsers aangekeer, maar verdere inligting rondom hulle is skraps.

Nagenoeg 400 mense het vandeesweek by die AfriForum-gemeenskapsentrum in Vryheid, KwaZulu-Natal (KZN), bymekaargekom.

AfriForum het takke in Newcastle, Utrecht, Vryheid, Amanzimtoti, Margate, Richardsbaai, Hluhluwe, Pongola en Paulpietersburg in KZN, waarvan sewe veiligheidstrukture het. Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KZN, het AfriForum en verskillende rolspelers vanuit die gemeenskappe hande gevat om sover moontlik betogers en plunderaars uit hul dorpe uit te hou en besighede en winkelsentrums te beskerm. “Al nege ons takke, of daar nou veiligheidstrukture is of nie, is iewers betrokke om te help om hul dorpe en gemeenskap te beveilig.”

Die AfriForum-gemeenskapsentrum in Vryheid, wat toegerus is met ’n beheerkamer vir buurtwagte asook ’n kliniek, het nou meer as ooit ’n belangrike middelpunt vir gemeenskapsgedrewe aksies in die dorp geword. Dié sentrum, wat in samewerking met Helpende Hand gestig is, het sy deure in 2017 geopen. Die takbesture van beide organisasies is baie aktief in die Vryheid-gemeenskap en daarom het die behoefte ontstaan om kragte saam te snoer deur ’n dubbeldoelige gemeenskapsentrum op die been te bring.

Speedy van Rensburg, Eugene van Aswegen en Gavin Minnot van die plaaslike buurtwag.

Gemeenskapsdienste wat vanuit die sentrum bedryf word, sluit onder meer maatskaplike en veiligheidsdienste, ’n noodwaterpunt en gesondheidsentrum in. ’n Barmhartige dermatoloog het verlede jaar sy dienste vrywillig aan dié gemeenskap beskikbaar gestel ’n en oogkundige, tandarts en ’n algemene praktisyn (GP) gaan binnekort by hulle aansluit.

Die sentrum het die hart van die Vryheid-gemeenskap geword.

Volgens Van Aswegen is die gemeenskapsentrum ’n voorbeeld van wat ’n gemeenskap kan vermag wanneer hul besluit om hul toekoms in hul eie hande te neem. “Die gemeenskapsentrum moet gesien word as ’n samebindende faktor vir die Vryheid-gemeenskap, waar ieder en elk eienaarskap van hul omgewing, veiligheid en gesondheid kan neem.”

Verskeie ander gemeenskappe in Durban het ook die afgelope paar dae saamgetrek en strate ingevaar om te patrolleer, mekaar te beskerm en ook om hul gebiede op te ruim na die vernietiging wat deur plundery veroorsaak is. Bemoedigende beeldmateriaal, soos dié van taxi-verenigings wat bejaardes beskerm terwyl hulle inkopies doen, is ook nou in omloop op sosiale media.

Die waterpunt by die sentrum.

Die Solidariteit Beweging doen ook ʼn beroep op lede van die publiek om die Beweging se Krisisfonds te steun om Helpende Hand in KZN in staat te stel om lewensmiddele aan lede van die gemeenskap beskikbaar te stel. Gebruik dié skakel om by te dra: www.krisisfonds.co.za. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za om by een van AfriForum se buurtwagstrukture aan te sluit

Soortgelyke plasings