|

Vryheid-tak dien GOP-voorstelle in

Die AfriForum-tak in Vryheid het op 15 Maart verskeie voorstelle vir die geïntergeerde ontwikkelingsplan (GOP) by die AbaQulusi Plaaslike Munisipaliteit ingedien.

Hierdie proses moet jaarliks hersien word en volgens die wetstelsel moet lede van die gemeenskap die geleentheid te kry om voorstelle in te dien.

“Ons het gereelde water- en kragonderbrekings en rioolprobleme, en die redes daarvoor is onaanvaarbaar. Volgens die munisipaliteit is die belastingbetaler se bydrae vir die 2018/19 finansiële jaar R75 miljard, dus behoort die munisipaliteit in ’n finansiële posisie te wees om hierdie instandhouding te kan doen,” sê André van der Walt, voorsitter van die Vryheid-tak.

“Ons sien gereeld dat hierdie GOP-prosesse of nie gedoen word nie of op so ’n manier bestuur word dat die hele gemeenskap nie deel is van die proses nie. Daarom sien ons dat die infrastruktuur in dorpe geweldig agteruitgaan. Hierdie prosesse is juis daar vir ekonomiese ontwikkeling en dis waarom elke sektor van ’n gemeenskap aan hierdie proses moet kan deelneem,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

“Ons sien dat besighede hul deure toemaak as gevolg van hierdie swak diens. Die klagtes val op dowe ore en beloftes word nie nagekom nie,” het van der Walt bygevoeg.

AfriForum hoop om binnekort met die bestuur van die AbaQulusi Plaaslike Munisipaliteit te vergader om ’n gesamentlike wenslys op te stel om hierdie probleme uit die weg te ruim. Verdere optrede kan ook oorweeg word.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings