|

Vryheidsdag: Regering ondermyn minderhede se vryheid – AfriForum se hofsaak teen Toerismedepartement môre om 10:00 aangehoor

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dit is ’n bitter ironie dat Suid-Afrika vandag Vryheidsdag vier, maar dat dit steeds nodig is dat AfriForum môre in die howe moet veg teen die regering se rassediskriminasie teenoor minderhede.

“Die feit dat die regering selfs  met krisishulp tydens COVID-19 teen minderhede diskrimineer, is ’n ernstige ondermyning van minderhede se vryheid deur die regering.”

AfriForum en Solidariteit se dringende hersieningsaansoeke teen die Departement van Toerisme se gebruik van ras as maatstaf vir die toekenning van COVID-19-hulp aan toerisme-ondernemings, word môre (28 April) om 10:00 in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Kriel het aangedui dat sy organisasie gereed is om die saak enduit tot in die hoogste hof te beveg, aangesien dit onaanvaarbaar is dat die regering alte graag minderhede se belastinggeld invorder en dan sonder huiwering bereid is om teen dieselfde minderhede te diskrimineer wanneer belastingbetalers se geld aangewend word.

“Dit is ook skokkend dat die regering selfs in ’n tyd waar almal in die land saam behoort te staan teen COVID-19 as gemeenskaplike vyand, besluit het om selfs hulpverlening aan sukkelende ondernemings te misbruik om ’n rasse-agenda te bevorder,” het Kriel bygevoeg.

AfriForum het reeds op 7 April 2020 vir Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die Minister van Toerisme, asook die Departement op terme geplaas oor SEB- en ander vereistes. Volgens Kriel het die Minister en Departement nie op AfriForum se skrywe gereageer nie en het AfriForum nou geen ander keuse as om die howe te nader nie.

“Die uitgesproke doel van die Departement se fonds is om bystand aan toerisme-ondernemings te gee wat nadelig deur COVID-19 geraak word. Aangesien almal, ongeag hulle ras, nadelig deur COVID-19 geraak word, kan die Departement nie Artikel 9(2) van die Grondwet, wat regstelling van diskriminasie uit die verlede regverdig, gebruik om diskriminerende hulpverlening teen die gevolge van COVID-19 te regverdig nie.”

AfriForum moedig alle toerisme-ondernemings aan om steeds by www.tourism.gov.za/Pages/COVID19TOURISMRELIEFFUND.aspx om verligting aansoek te doen. SMS ook jou onderneming se naam na 45113 (R1) sodat AfriForum jou onderneming se besonderhede het en ons namens jou hofaksie kan instel as jou onderneming se aansoek op grond van SEB-vereistes afgekeur word. Jy kan ook ’n e-pos met jou onderneming se besonderhede na afriforum@afriforum.co.za stuur.

Soortgelyke plasings