Vrystaat-vullisterreine in haglike toestand


AfriForum het vanjaar 127 vullisterreine in al nege provinsies geoudit as deel van hul nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Geen vullisterrein uit 20 vullisterreine wat in die Vrystaat geoudit is, het aan die nasionale standaarde voldoen nie. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.
Só het die vullisterreine in die Vrystaat gevaar:
 

Beste Persentasie Slegste Persentasie
    Bethlehem 16%
    Bloemfontein-Noord 10%
    Bloemfontein-Suid 14%
    Boshoff 18%
    Brandfort 2%
    Bultfontein 24%
    Dealesville 26%
    Frankfort 3%
    Harrismith 13%
    Henneman 26%
    Hertzogville 36%
    Kroonstad 16%
    Odendaalsrus 7%
    Parys 16%
    Reitz 13%
    Sasol 18%
    Theunissen 24%
    Virginia 6%
    Welkom 13%
    Winburg 54%

Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens Jp Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland-streek, is die meeste vullisterreine in die Vrystaat in ’n haglike toestand. “Al die vullisterreine wat geoudit is, is in ’n slegte toestand – slegs een vullisterrein het meer as 50% behaal. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan swak bestuur deur die munisipaliteite en regulasies en wette wat nie toegepas word nie. In sommige gevalle is daar terreine wat geensins in stand gehou word nie en waar vullis vir kilometers buite die terrein rondlê.”

Nel sê voorts dat die afwesigheid van afvalbestuurslisensies, mediese afval wat onwettig op die terrein gestort word, asook swak kontrole en bestuur van die terreine is van die grootste probleme wat AfriForum tydens dié oudit opgemerk het.
AfriForum-takke sal ook druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter.
Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op peil gebring word.

Soortgelyke plasings