Vrystaatse polisiekommissaris verbied polisielede om met gemeenskap saam te werk


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n klagte aan lt.genl. J.K. Phahlane, die nasionale polisiekommissaris, en genl. Tshumane, die provinsiale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens van die Vrystaat, gestuur.Dit volg nadat die provinsiale kommissaris vanoggend ʼn bevel aan alle kluster-, stasiebevelvoerders en adjunkprovinsiale kommissarisse in die Vrystaat gestuur het ingevolge waarvan alle polisielede in die Vrystaat verbied word om as lede van die polisie deel te vorm van AfriForum se Projek Nehemia.
Hy het gedreig om die SAPD-lede wat hulle hieraan skuldig maak, te dissiplineer.
Volgens Ian Cameron, hoof van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, strook die stelling geensins met die Suid-Afrikaanse Polisiewet nie en ook nie met die nasionale beleidsraamwerk van gemeenskapspolisiëringforums nie.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiewet (Nr. 68 van 1995) stipuleer dat die SAPD organisasies soortgelyk aan buurtwagte, veiligheidsnetwerke en GPF’s as misdaadbekampingsinisiatiewe moet aanvaar en bystaan, mits elkeen binne die raamwerk van die Wet optree,” sê Cameron.

·         Verwys na die Suid-Afrikaanse Polisiewet, 1995 (hoofstuk 7, artikel 18, sub-artikel 2).

“AfriForum het die projek op plaaslike vlak en op klustervlak met die polisie bespreek en saam beplan. Die provinsiale kommissaris se dreigement aan polisielede is ʼn blatante verontagsaming van die Suid-Afrikaanse Polisiewet van 1995.”

Cameron sluit af deur te sê dat Projek Nehemia ʼn toetsprojek is om vir alle gemeenskappe in Bloemfontein ʼn kans te gee om as pro-aktiewe burgers deel te neem teen misdaad. Hy beklemtoon dat hulle as oë en ore vir die polisie moet optree en dat die polisie eintlik hierdie soort inisiatief moet verwelkom. Alle optrede van deelnemers van die projek is binne die raamwerk van die Wet.

Soortgelyke plasings