|

#VulDieGat: Parys 80 slaggate ‘armer’ danksy AfriForum-tak

Die T-aansluiting by Van Collerstraat en Eerstelaan in Parys het nou 80 slaggate minder as ’n maand gelede nadat die plaaslike AfriForum-tak dié slaggate met 77 sakkies teer herstel het. Die tak het ongeveer R9 000 aan hierdie aksie spandeer. Dit is veral ouers en onderwysers aan die Primêre Skool Parys wat hierdie gedeelte van die pad baie gebruik omdat dit na die rugbyveld toe lei.

Hierdie projek vorm deel van AfriForum se nasionale slaggatmaand waar die organisasie beoog om slaggate ter waarde van R1 miljoen in Julie te herstel.

“Dit is vir die tak belangrik dat leerders veilige toegang tot skoolterreine en sportvelde moet hê. Baie dankie aan die gemeenskapslede wat ingespring en gehelp het,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Volgens Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Parys, kry hulle baie versoeke om slaggate in die dorp toe te maak, maar as gevolg van die omvang van die skade aan die pad kan hulle nie met die mannekrag en gereedskap tot hulle beskikking, aan almal se behoeftes voldoen nie. Met die bietjie hulp wat die tak kry tydens die projek kan hulle slegs konsentreer op kleiner gate om te voorkom dat dit groter word.

“Ons bedank die publiek wat wel ’n bydrae wil maak. Die uitgawes om slaggate te herstel is hoog, daarom vra ons die gemeenskap om by AfriForum aan te sluit – jou bydrae help om onkostes te dek. Die volgende teeraksie sal in die somer plaasvind omdat ons met koue teer werk en in die winter bemoeilik dit die teer van gate,” sluit Burger af.

Indien jy by Parys se AfriForum-tak wil betrokke raak of ’n donasie vir teer wil maak, kontak Burger by 082 653 4281.

Soortgelyke plasings