|

Vullisterreine in die Oos-Kaap in haglike toestand

AfriForum het vanjaar 135 vullisterreine landwyd geoudit as deel van die organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs een van ses vullisterreine wat in die Oos-Kaap geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet no. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Só vergelyk die vullisterreine in die Oos-Kaap:

Naam van tak/vullisterrein Munisipaliteit/ verantwoordelike instelling Lisensienommer Nakomingstelling (%)
Oos-Kaap: 2015 2016 2017 2018 2019 2020
Aliwal-Noord Maletswai PM 12/9/11/P131 30 34 36
Elliot Sakhisizwe PM 16 0 2 4
Hankey Kouga PM BB33/2/1100/5/P209 40 72
Jeffreysbaai (Humansdorp) Kouga PM 12/9/17/P53 58 88
Uitenhage

(Koedoeskloof)

Nelson Mandelabaai-metro B/33/2/1200/7/P37 90 74
Port Elizabeth Nelson Mandelabaai-metro 16/2/7/M200/D1/21/P278 76 99 90 78

Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining, rehabilitasie en dies meer in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, is die meeste vullisterreine in die Oos-Kaap in ’n haglike toestand. “Die meeste vullisterreine is in ’n slegte toestand en dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan amptenare wat nie hul werk optimaal verrig nie. Ons vermoed ook dat munisipale fondse tot so ’n mate misbruik word dat daar in sekere gevalle nie geld is om die onderskeie terreine op ’n aanvaarbare standaard te kry en te hou nie.”

Greyling sê voorts die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit ondervind het, is onder meer die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en die algehele wanbestuur van die terreine. “Die veiligheid by die meeste vullisterreine wek ook heelwat kommer. Mense wat onwettig op die terreine woon, is dikwels aggressief en dit raak bloot te gevaarlik om die terreine te besoek.”

AfriForum-takke sal ook druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter. AfriForum gaan ook ná afloop van die projek ’n vergadering met Barbara Creecy, Minister van Omgewingsake, belê om terreine te identifiseer sodat dit herstel en weer op peil gebring kan word.

Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen munisipaliteite wat nie aan die vereistes voldoen nie. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

  • Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings