|

Vullisterreinoudit: AfriForum bekommerd oor resultate

AfriForum het vandag die organisasie se jaarlikse vullisterreinouditverslag bekendgestel nadat vullisterreine in dorpe/stede waar AfriForum se takke geleë is, vroeër vanjaar geoudit is. Dié verslag gaan met Barbara Creecy, Minister van Omgewingsake, bespreek word en ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek, aangesien slegs 17% (24 van 135) van dié terreine aan die minimum vereistes van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet no. 59 van 2008) voldoen.

Kragtens die wetgewing moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. ’n Lys met 33 vrae is saamgestel met hierdie minimum vereistes as riglyn en dié vrae is gebruik om die vullisterreinoudit te doen.

“Die swak persentasie kan toegeskryf word aan verskeie probleme wat by munisipaliteite ondervind word wat dan lei tot die swak en onwettige bestuur van ons vullisterreine. Wanbesteding van fondse, swak instandhouding en ’n gebrek aan bekwame personeel is maar ’n paar van die probleme wat ons daagliks ondervind. Die grootste uitdaging is dat daar amptenare in munisipaliteite is wat weet hul swak bestuur hou geen gevolge vir hulle in nie. Dit is kommerwekkend om te weet die meerderheid vullisterreine in Suid-Afrika voldoen nie eens aan die minimum vereistes nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.

AfriForum is ook bewus daarvan dat sommige vullisterreine gesluit het en dat daar nie beoog word om nuwe terreine te vestig om die voriges te vervang nie (bv. in Pretoria). Dit beteken dus daar gaan ’n toename wees in die hoeveelheid afval wat op die oorblywende terreine gestort word. Dit wek kommer omdat dié terreine ook nou vinniger gaan vol raak en moet sluit.

“Ná afloop van 2019 se vullisterreinoudit is daar met Creecy vergader en ons beoog om dit vanjaar weer te doen om vullisterreine te identifiseer wat ons in samewerking met die regering wil herstel en, waar moontlik, ook ’n openbare-privaat-vennootskap (OPV) kan laat ondergaan.”

AfriForum gaan vir 2021 ’n nuwe ouditvraelys ontwerp sodat oorlaaistasies ook geoudit word, omdat baie van die oorlaaistasies in munisipaliteite in ’n haglike toestand is.

Dit is baie belangrik om afvalmoniteringskomitees vir vullisterreine te stig om munisipale amptenare verantwoordbaar te hou. Gemeenskappe kan die volgende stappe volg om volhoubare verbeterings by ’n vullisterrein te bewerkstellig:

  • Gemeenskappe moet druk op munisipaliteite plaas om afvalmoniteringskomitees te stig.
  • ’n Vergadering moet een keer per maand belê word waartydens die toestand van die vullisterrein bespreek en doelwitte met haalbare tydperke gestel word.
  • Bou goeie verhoudings met die munisipaliteite en betrokke rolspelers.
  • Dring aan op die aanstelling van ’n betroubare diensverskaffer wat bevoeg is om die werk te doen.
  • Pas volhoubare druk toe via die afvalmoniteringskomitee om seker te maak die doelwitte wat gestel is, word bereik.

De Klerk sê verder daar is alternatiewe oplossings vir munisipaliteite om vullis beter te bestuur en om selfs ’n groter bydrae tot gemeenskappe te maak. “Daar is verskeie oplossings wat daartoe kan bydra dat slegs onbruikbare vullis op terreine beland, soos onder meer die afval-tot-energie-beginsel, ekoblokke, OPV, asook die voorbeeld wat gevolg is om plastiekpaaie te bou, soos in Jeffreysbaai.”

De Klerk meen munisipaliteite moet na dié soort oplossings begin kyk om Suid-Afrika se vullisbestuur op ’n aanvaarbare standaard te kry. “AfriForum sal graag met die implementering van oplossings wil help en moedig munisipaliteite ook aan om met die organisasie in verbinding te tree. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat ons omgewing nie besoedel word nie en daarom wil ons ook tot ’n skoner Suid-Afrika bydra.”

Só het die vullisterreine per provinsie gevaar ten opsigte van die minimum vereistes:

Provinsie Getal vullisterreine wat geoudit is Getal vullisterreine wat aan meer as 80% van die minimum vereistes voldoen Getal vullisterreine wat nie aan die minimum vereistes voldoen nie
  2020 2020 2020
Gauteng 16 11 5
KwaZulu-Natal 8 1 7
Limpopo 9 1 8
Mpumalanga 19 0 19
Noord-Kaap 15 0 15
Noordwes 18 2 16
Oos-Kaap 6 1 5
Vrystaat 25 0 25
Wes-Kaap 19 8 11
Nasionale totaal 135 24 111

Help om jóú omgewing skoon en netjies te hou: SMS jou dorp se naam na 45354 (R1) en sluit by dié inisiatief aan.

  • Lees die ouditverslag hier.

Soortgelyke plasings