|

Vuurwapen-kruitvat? AfriForum wag vir syfers van polisie

 

Deur Carla van der Spuy

Duisende vuurwapens wat by die staat geregistreer is en sedert 2009 as gesteel of verlore aangemeld is, is steeds soek.Dit beteken dat daardie wapens in verkeerde hande beland het, meen Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

 

Volgens Cameron is ’n PAIA-aansoek (‘n aansoek volgens die wet op toegang tot inligting) op 19 Mei by die sentrale vuurwapenregister en die polisie ingedien. Die aansoek is saam met die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) gebring.

Die aansoek spruit voort uit ’n voorval verlede jaar in Norwood, Johannesburg, waartydens die polisie op meer as 300 vuurwapens beslag gelê het wat in  besit van burgers van die Oekraïne gevind.

“Die polisie het toe aangevoer dat ’n groot aantal van dié wapens staatsgeregistreerd is, maar hulle het nie geweet dat dit nie meer in staatsbesit was nie. Dit is uiters kommerwekkend en het ons genoop om ondersoek in te stel. Ons moet probeer vasstel of die polisie meer wapens as die publiek verloor in die lig daarvan dat die regering dit vir gewone landsburgers al hoe moeiliker maak om vir vuurwapens aansoek te doen,” meen Cameron.

In die aansoek word gevra hoeveel staatsgeregistreerde wapens as gesteel of as verlore by die polisie aangemeld is sedert 2009 tot en met Junie 2014. “Ons wil ook weet hoeveel van die wapens gekry is en hoeveel wapens in totaal by die staat geregistreer is. Dit sluit onwettige vuurwapens in waarop beslag gelê is en wapens wat spesifiek vir dienste of aktiwiteite van die staat gebruik word.”

Volgens Cameron het die polisie tot volgende Donderdag tyd om die inligting bekend te maak. Indien dit nie gebeur nie, is daar gronde om die hof te nader.

Prof. Anni Hesselink, kriminoloog by Unisa, sê Suid-Afrika word gekenmerk deur die grootskaalse onwettige verkryging en besit van vuurwapens.

“Die hoë geweldmisdaadsyfer word onder meer aan sowel die wettige as onwettige besit van vuurwapens, die maklike verkryging daarvan asook aan die geweldkultuur in ons land toegeskryf.”

“Vuurwapens word ook tydens huisrooftogte geteiken en hiervoor word mense vermoor. Ook polisielede word vir hul vuurwapens geteiken en vermoor.”

Hesselink meen die huidige oopgrensbeleid en korrupsie (byvoorbeeld in die polisie en by die grensposte) in en rondom Suid-Afrika, maak die aanvraag en onderhandeling vir, en natuurlik die smokkel van vuurwapens, ‘n lonende bedryf. Enkele individue, bendes en groot misdaadsindikate is by die onwettige handel van vuurwapens betrokke.

Sy sê die besit van ‘n vuurwapen simboliseer vir talle wetsgehoorsame burgers veiligheid ten opsigte van selfverdediging en beskerming. Vir misdadigers beteken dit weer “mag en beheer” wat tot winsgewende en brutale gevolge lei. Vuurwapens boesem vrees in. “Die besit van onwettige vuurwapens word ook grootliks verbind aan die hoë en onaanvaarbare moordsyfer en plaas- en hoewe-aanvalle in ons land.”

Oor die vuurwapenkrisis sê Fred Camphor, uitvoerende hoof van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) dat die SAPD nie gerat is om die proses van herlisensiëring van vuurwapens uit te voer soos die nuwe wet van hulle vereis het nie.

“Die sentrale vuurwapenregister het bloot aangehou om die minister in te lig dat daar geen probleme is nie, terwyl vuurwapeneienaars gekla het die proses werk nie omdat hul nuwe lisensies nie uitgereik is nie en baie foute voorgekom het.

“’n Kommissie van ondersoek is toe deur die minister aangestel. Die bevinding was dat die polisie nie hul werk gedoen het of kon doen soos redelikerwys van hulle vereis is nie.”

(Carla van der Spuy is ’n vryskut-skrywer en joernalis)

 

 

Soortgelyke plasings